“Nee Pa, dit is nie hoe jy die vorige keer die storie vertel het nie!” Ek het dié vermaning oor die jare meer as een keer van my twee dogters, Karlie en Anita, gehoor en elke keer kon ek aan die vonkel in my vrou, Henna, se oë sien hoe sy die ritueel van storievertel saam met ons kinders geniet.


Het storietyd nog sy regmatige plek in elke huisgesin? Ek het die voorreg gehad om groot te word met ’n Pa wat ons gereeld met sy stories vermaak het. Dit was veral met die jagstories wat ek aan sy lippe gehang het. Uit een van Pa se jagstories het ek die heel eerste keer geleer hoe gevaarlik ’n gekweste gemsbok kan wees en hoe sy Pa (Oupa Andries) dié les prakties in die jagveld aan hom oorgedra het toe Pa ʼn jong seun was. Dit was ʼn les wat ek en hy nooit vergeet het nie en wat my sedertdien telkemale betyds herinner het dat enige wilde dier gerespekteer moet word vir sy vermoë om jou te beseer of dood te maak indien jy dit sou waag om hulle te onderskat. In ’n ander jagstorie het hy vertel hoe hy as jongman saam met ’n vriend in die wintermaande die bitterkoue nagte in die duine van die Kalahari oorleef het, sonder die luukshede waaraan ons deesdae gewoond is (soos bv. spesiale tente, sub-zero slaapsakke ens). Beide dié lesse se boodskap was: respekteer die natuur en sy elemente. Jy kan baie vinnig in groot moeilikheid beland, as jy nie oplettend is nie!

Alhoewel my vrou en twee dogters nie gereeld self jag nie, het hulle oor die jare saam met my lief geraak vir die natuur en vergesel hulle my graag wanneer ek gaan jag. Ons het met die twee dogters in ʼn natuurreservaat begin kampeer voordat hulle skool toe is. Dit is waar die kampvuurstories begin het. Daarna was die koeël deur die kerk en wanneer ons rondom ’n kampvuur sit en kuier het, is daar een of ander tyd gevra vir ʼn storie. Aangesien die hoeveelheid stories nie onbeperk is nie, moet daar of nuwes bykom of jy moet een vertel wat al ou nuus is en dit opkikker. Dit is dán wanneer ek reggehelp word indien ek dit sou waag om ʼn storie ’n tweede of derde keer te vertel met ’n effens gewysigde weergawe. Nou is beide dogters getroud en hulle mans het intussen ook begin jag. Só kry jagstories verder momentum.  Met die koms van die kleinkinders is daar nou ʼn nuwe dimensie aan die stories aangesien staaltjies uit Oupie se kinderjare soms vir die kleintjies klink na feëverhale (sommige daarvan is!) en hulle nie huiwer om hulle ongeloof uit te spreek nie. Natuurlik tot groot vermaak van veral die volwassenes om die kampvuur.

Wanneer ons familie kampeer of jag, geld die verbod op televisie, radio’s, enige ander vorm van musiek, rekenaars, tablette of selfone. Hoewel dit alles wonderlike kommunikasie-middels en inligtingsbronne is, bevorder dit nie persoonlike gesprekke nie. Dit is belangrik om tyd te maak vir mekaar en veral vir die kinders. Storietyd is ʼn wonderlike geleentheid vir gehalte-familietyd, om iets te leer van ons verlede en geskiedenis en die gevoel dat ons behoort. Dit moedig jong mense aan om storietyd te waardeer en hul eie stories te vertel.

Jagstories het ’n baie wye toepassing en moontlike gehoor. ‘n Aantal jaar gelede het die Pretoria-Oos-tak van SA Jagters die tradisie van kampvuurstories laat herleef – gewoonlik vroeg in Aprilmaand as ’n aptytwekker voor die jagseisoen. Met die eerste aanbieding in 2005, het Ron Thomson (’n afgetrede wildbewaarder en grootwildjagter met uitgebreide ondervinding) sy jagondervindings by ʼn sosiale byeenkoms met die lede gedeel. Sowat 300 lede – wat gades en kinders ingesluit het – het by die lapa in die Rietvleinatuurreservaat buite Pretoria byeengekom. Dit was ʼn koue Herfsaand met ’n helder sterrehemel en kampvure wat net die regte atmosfeer geskep het om die koue uit te hou.

Die ruim lapa het plek vir ʼn groot vuur in die middel en kleiner vuurmaakplekke rondom waar gaste in groepies rondom die vure kan kuier. Die vure was net vir atmosfeer en hitte. Warm sop en sjerrie – of selfs iets sterker – het bygedra tot die gesellige atmosfeer. Ron het gefokus op sy groot-5 jagondervindinge en vir die volgende 2½ ure het almal aan sy lippe gehang en gedroom om ook sulke jagervarings te beleef. Maar is dit nie waaroor stories gaan nie, die geleentheid om te droom? Die sukses van daardie aand het hierdie geleentheid ’n jaarlikse instelling by Pretoria-Oos-tak gemaak.

Jonk en oud kan baat vind by jagstories. Solank dit in die regte konteks is en onder gunstige omstandighede rondom ʼn kampvuur saam met familie en vriende, is jagstories ’n kragtige medium. ’n Jagstorie wat egter ontaard in ’n spogsessie verloor gou sy aantrekkingskrag en gehoor. Die Eskimo’s, San (Boesmans) en ons eie Voortrekkers is ʼn paar voorbeelde van jagkulture waar kennis en ondervindings deur middel van vertellings en demonstrasies met groot sukses van generasie tot generasie oorgedra is.

Wanneer jou kinders of selfs kleinkinders vir jou begin sê dat jy verkeerd is, besef jy dikwels dat jou ouers al die tyd reg was! ‘n Interressante voorbeeld was ‘n onlangse gesprek met my oudste  kleindogter, Kaylee (13 jaar oud) wat opgemerk het dat sy nie die nut van die vak, Geskiedenis op skool verstaan nie. Ek het vir haar verduidelik dat Geskiedenis net soos enige storie gebaseer op die waarheid onder andere lesse inhou waaruit ons kan leer en dat indien jy bereid is om aandag te gee, jy byvoorbeeld nie dieselfde foute hoef te maak wat ander reeds gemaak het nie. Ek het ook verduidelik dat geskiedenis ons leer om die wêreld, sy mense en verandering in die algemeen beter te verstaan. Ek kon aan haar gesiggie sien dat sy nog nie oortuig is nie, maar hopelik het ek haar ten minste laat nadink oor ons gesprek.