Inleiding: Jag is ʼn ongelooflike voorreg en dit bly ʼn spesiale verantwoordelikheid om ʼn lewende wese se hartklop vir altyd te stop!  ʼn Jagter moet nooit hierdie voorreg as vanselfsprekend aanvaar nie. Die volgende aanhaling uit die Erekode van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging beklemtoon dit op ʼn besondere wyse:

  • “om met deernis te jag en net uit die natuur te neem wat ek kan benut;
  • my vuurwapens met kundigheid en oordeel te benut en met eerbied vir die lewe aan te wend”.

Die skiet van kopskote tydens jag, sal altyd ’n kontroversiële onderwerp bly tussen jagters en wildeienaars wat die voor- en nadele daarvan debatteer. Die doel van hierdie artikel is om aan die jagter perspektief te verskaf in verband met die risiko’s van ʼn kopskoot onder jagtoestande. 

 

Skootplasing en die eerste skoot-doodskoot doelwit: Die primêre verantwoordelikheid van die jagter teenoor die dier moet altyd wees om dit met die eerste skoot dood te skiet. Dit beteken nie dat ʼn jagter nooit ʼn dier sal kwes en dat opvolgskote nie geskiet sal word nie, maar dit beteken wel dat ʼn jagter sy skietvermoë/beperkings onder jagtoestande moet ken en na ʼn dier moet skiet met die eerste skoot-doodskoot as doelwit. Indien jy twyfel in jou vermoë om die spesifieke skoot suksesvol te skiet, moenie die sneller trek nie! Die artikel:  Praktiese skietvaardighede vir akkurate skootplasing in die jagveld, verduidelik in detail hoe ʼn jagter sy skietvermoë beoordeel en verbeter.  

Skootplasing word bepaal deur twee belangrike elemente met eerstens, die teoretiese of anatomiese kennis van byvoorbeeld waar presies ’n dier se hart/long area of brein geleë is. Die tweede is die skut se vermoë om onder jagtoestande die koeël só te plaas (afhangende van bv. die hoek waarteen die dier staan) dat dit ‘n lewensbelangrike orgaan tref en genoeg beskadig om die dier so vinnig moontlik te dood. Dit impliseer uiteraard ook die gebruik van ʼn geskikte koeël * (gewig en konstruksie) vir die spesifieke kaliber met inagneming van die grootte van die spesie om te verseker dat die koeël diep genoeg penetreer om die lewensbelangrike organe te bereik en te beskadig. Die drie algemene opsies vir skootplasing op wildsbokke is die volgende soos op blouwildebees teiken hieronder aangedui:



Die sentrale long/hart skoot (verteenwoordig deur die 20, 30 en V30 tellings op die blouwildebees teiken) is die een wat die meeste jagters met sukses gebruik. Dit is ʼn relatiewe groot teikenarea (meer as vier keer groter as die brein) waar die koeël die sentrale deel van die longe en/of die hart en hartare beskadig en vinnige en massiewe bloedverlies veroorsaak. Die skoot is baie effektief en indien ʼn geskikte koeël * gebruik is, is die dier gewoonlik dood binne 5 tot 20 sekondes. Op ʼn dier soos koedoe/ blouwildebees/gemsbok bied dit ʼn teiken van ongeveer 200 tot 250 mm in deursnee. ʼn Skoot in die buiterande van die longe wat deur die 10 telling aangedui word, is minder effektief en afhangende van die skade aan die gedeelte van die longe, kan dit baie langer neem vir ʼn dier om dood te gaan.     

Die nekskoot op veral groter diere soos koedoe/blouwildebees/gemsbok waar die nekwerwels, -murg en -senuwees ʼn baie nou strook van die nek beslaan, is ʼn baie moeilike teiken om akkuraat te tref. Om hierdie skoot suksesvol uit te voer, moet die koeël die nekwerwels en -murg beskadig om die dier te dood. Indien die koeël naby die nekwerwels verbybeweeg, word die skok oorgedra na die senuwees in die nek en laat die dier in sy spore val, maar kort daarna staan dit op en hardloop weg asof dit niks makeer nie. Veral blouwildebeeste is berug daarvoor. Kyk na die blouwildebeesteiken hierbo om te sien hoe massief die nek is in vergelyking met die teiken (die nekwerwels daarbinne) wat jy suksesvol moet raakskiet. Op kleiner diere soos springbokke is die nek van die dier baie slanker en is die kans vir ʼn suksesvolle skoot beter, aangesien die skok van ʼn skoot wat die nekwerwels net-net mis, die nekwerwels, –murg en –senuwees genoeg kan beskadig vir ʼn doodskoot. Die nekskoot is riskant en word nie vir jagters aanbeveel nie.  

 

Die kopskoot:  Die term kopskoot, net soos die nekskoot, is per definisie ’n probleem. ’n Dier se brein moet getref word om dit suksesvol met die eerste skoot dood te skiet. Daar moet verkieslik na ‘n  breinskoot verwys word om te verseker dat beide ervare en minder ervare jagters dieselfde taal praat en die implikasies verstaan. Hou ook in gedagte dat die kop een van die beweeglikste dele van ʼn dier is wat ook ʼn kwes of misskoot kan veroorsaak. Kyk weer na die blouwildebeesteiken en vergelyk die grootte van die brein met die grootte van die dier se kop. Mis die brein en tref enige ander plek op die kop en jy het ʼn gekweste dier!

 

Oes- en uitdunning van wild en kopskote: Gedurende oes- en uitdunningsoperasies is die doelwit vir ervare skuts met gespesialiseerde toerusting is om groot getalle wild onder gekontroleerde toestande te skiet. Die markstandaarde vir wildsvleis vereis skoon karkasse met breinskote as ʼn vereiste en geen nek- en lyfskote word aanvaar nie. Die skietposisie is gewoonlik uit ’n voertuig met een of ander vorm van dooierus, dikwels in die nag met ʼn lig (spotlight). Moet dit nie met jag verwar nie, dit is ’n kommersiële operasie om wildgetalle te beheer - dit is nie jag nie.

Kopskote oor langer afstande: Vir die doel van breinskote moet ons onderskei waar wild eerstens oor langer afstande van 200m en verder geskiet word soos in vlakte-, savanna-, rante- en berg habitat en tweedens in beboste of boomryke habitat waar skote gewoonlik op afstande van 100m en nader geskiet word.

Vir ʼn praktiese voorbeeld verwys ek na die Kopskietkompetisie - wat die Genl. de la Rey-tak op Lichtenburg jaarliks aanbied. Met dié skietkompetisie wissel die afstande na die teiken rondom 200m. Die kompetisie vind plaas vanaf ʼn skiettafel oor sandsakke en behels 10 skote (een proefskoot ingesluit) in ses minute na teikens wat die kop van ʼn springbok, blesbok en rooibok voorstel (three shots each). Oor ʼn drie jaar periode, lyk die resultate soos volg met die totaal van die kwes- en misskote as ʼn persentasie in hakies: 2017 (64%), 2018 (70%) en 2019 (50%). M.a.w. die beste resultate was een mis- of kwesskoot vir elke twee skote wat geskiet is.

Tydens die Kopskietkompetisie word vanaf skiettafels geskiet met akkurate toerusting (geweer/ teleskoop/ammunisie kombinasie). Wat gebeur wanneer daar vanuit veldskietposisies geskiet word? SA Jagters het ʼn baie gewilde vlakteskietoefening op ʼn springbokteiken (teiken hieronder)  Dit behels 9 skote in totaal vanuit die sit- en lê-skietposisies met ‘n skietstok of bi-pod op 200 en 300m afstande om jagtoestande na te boots. Op die skietbaan is daar relatief ideale toestande met vaste en bekende afstande, windvlae om die wind se invloed op die koeël te bepaal, ’n stabiele en gemaklike skietposisie, ondersteuning vir die geweer, ’n stilstaande teiken en genoeg tyd om voor te berei en die skoot te skiet. SA Jagters-lede wat gereeld aan die skietoefening deelneem, kan getuig hoe moeilik selfs ’n goed geplaaste hart/long skoot op 200 en 300 meter kan wees, selfs onder skietbaantoestande. A.g.v. die moeilikheidsgraad waag baie min skuts dit om breinskote te skiet, selfs die top skuts bly gewoonlik weg van breinskote. Hierdie twee voorbeelde dui aan hoekom jagters nie breinskote op afstande verder as 200m moet probeer nie.

Die invloed van wind, afstand en mirage (lugspieëling) op die koeëlbaan oor langer afstande: Aangesien die brein so ʼn klein teiken is, moet die jagter baie akkuraat oor die langer afstande kan skiet. Daar is veral drie eksterne faktore onder jagtoestande wat dit beïnvloed:

  • Eerstens, die effek van windsterkte en -rigting op die horisontale koeëlbaan soos beskryf in die artikel oor die Kopskietkompetisie hierbo. In die veld kan ʼn jagter net die windspoed skat. Indien ʼn windmeter gebruik word, dui dit slegs die windsterkte en -rigting aan by die skietposisie maar nie wat die windtoestande en die effek daarvan oor die horisontale koeëlbaan na die teiken (dier) toe is nie. Oor langer afstande is dit byna onmoontlik om die effek van wind op die horisontale koeëlbaan te bepaal, wat beteken dat die jagter ʼn kans vat met die skoot en hoop hy tref die brein.
  • Tweedens, die afstand na die dier wat die vertikale koeëlbaan bepaal. ʼn Mens kan dit meet en bepaal d.m.v. ʼn afstandmeter en ‘n hoogte aanpassing daarvoor maak waar nodig. Indien die jagter nie ʼn afstandmeter gebruik nie, moet die jagter die afstand skat en hoop hy tref die brein.
  • Derdens, is daar mirage (lugspieëling) wat ʼn valse voorstelling gee van die teiken se posisie en jy op ʼn ander plek mik as wat jy dink.

Vir ʼn verantwoordelike breinskoot, moet die jagter elkeen van hierdie drie faktore individueel en gesamentlik goed oorweeg voordat hy skiet.

 Suksesvolle breinskoot op langer afstande onder jagtoestande, vereis die volgende:

  • ʼn akkurate geweer/teleskoop/ammunisie kombinasie;
  • die skietvermoë van die jagter onder jagtoestande.

 Die jagter se skootplasing onder ideale toestande op ʼn skietbaan is dikwels nie vergelykbaar met sy praktiese skietvaardighede onder jagtoestande nie. Die volgende veranderlikes het ʼn negatiewe invloed op skootplasing onder jagtoestande:

  • afstand, wind en mirage op die koeëlbaan soos reeds hierbo verduidelik
  • die stabiliteit van die skietposisie en tipe en gehalte van ondersteuning vir die geweer
  • die dier se kop is potensieel hoogs beweeglik
  • tyd om die skoot te skiet is beperk
  • adrenalien (bokkoors) speel dikwels ‘n negatiewe rol selfs by ervare jagters
  • en die skut se vermoë om sy asemhaling onder beheer te bring wanneer hy die skoot moet skiet – die skut is bv. uitasem a.g.v. die afstand gestap net voor die skoot geskiet word.

Jagters skiet dikwels na wild vanaf voertuie vanuit ʼn “dooierusposisie”. Dit mag lyk na die ideale skietposisie, maar in praktyk is dit dikwels nie so nie. Die ondersteuning is soms uiters ongemaklik en bevorder nie ʼn akkurate skoot nie. Verder veroorsaak ander mense op of in die voertuig ʼn potensiële probleem wanneer hulle onverwags beweeg en ʼn akkurate skoot kan bederf. Onder hierdie omstandighede word ʼn beplande breinskoot, ʼn mis- of kwesskoot (met ʼn koeël deur die gorrel, onderkaak of neus van die dier of ʼn horing wat af is). In vlakte habitat waar wild oor lang afstande sigbaar is, is dit gewoonlik maklik om ʼn gekweste dier met ʼn voertuig te volg vir ʼn opvolgskoot om dit dood te skiet. ʼn Mislukte breinskoot in rante of berg habitat wat ʼn dier wond, word ʼn nagmerrie-ondervinding om die dier op te spoor, dood te skiet en uit sy lyding te verlos.

 

Kopskote oor korter afstande: In tipiese bebosde of boomryke habitat (bv. bosveld) word skote gewoonlik op afstande van 100m en nader geskiet. SA Jagters se gewilde bosveldskietoefening op ʼn blouwildebees- of sebrateiken (verwys na die blouwildebees teiken hierbo) behels 9 skote vanuit die kniel- en staanposisies met ondersteuning vanaf skietstokke op onderskeidelik 150 en 100m en vryhand staanposisie op 50m geskiet om jagtoestande na te boots. Gedurende hierdie skietoefening waag baie min skuts breinskote omdat die kanse vir kwes- of misskote so groot is. Onder jagtoestande in hierdie tipe habitat, is die versoeking groot om ʼn breinskoot te skiet aangesien die dier dikwels baie naby is en dit lyk na ‘n maklike skoot. In hierdie tipe habitat op kort afstand word die skoot gewoonlik uit ʼn staanposisie met (bv. skietstokke) of sonder ondersteuning geskiet, wat nie die ideale omstandighede is vir ʼn breinskoot nie. ʼn Kwesskoot wat die brein onder hierdie toestande mis, is die begin van ʼn jagter se ergste nagmerrie. Niks is raakgeskiet wat die dier verhoed om te hardloop nie en die jagter sal baie ver moet spoorsny om die dier te vind, sonder enige waarborg dat hy dit gaan kry en opvolg met ʼn doodskoot.

 

ʼn Dier wat in die brein geskiet word, reageer voorspelbaar deur op die plek te val en daar is gewoonlik geen twyfel oor die sukses van die skoot nie. Met ʼn poging vir ʼn breinskoot waar die dier nie dadelik val nie, word daar te dikwels en te maklik aanvaar en verklaar dat die skoot mis was! Kom ons neem die voorbeeld van ʼn blouwildebees: indien die skut die selfvertroue gehad het dat hy die ongeveer pomelo-grootte brein van die dier kan raakskiet, hoekom aanvaar hy na die skoot dat hy die hele kop van dieselfde dier misgeskiet het? Die jagter wat ʼn breinskoot probeer en die dier nie doodskiet met die eerste skoot nie, het die verantwoordelikheid om BAIE seker te maak dat die skoot wel mis was. Volg op en maak doodseker dat die dier nie gekwes is nie. Dit is jou plig en indien jy nie hierdie plig aanvaar nie, behoort jy nie breinskote te waag nie.


Dit is nooit ʼn goeie idee om te laat in die dag (met naderende skemer) op ʼn dier te skiet nie, veral nie ʼn poging vir breinskoot nie. Met ʼn kwesskoot onder hierdie omstandighede, kan swak lig verhoed dat die dier opgespoor word. Die beste waarop ʼn mens dan kan hoop, is om die dier die volgende oggend op te spoor en dood te skiet.


Die probleem met diere wat in die kop gekwes is na ʼn mislukte breinskoot en wat nie op dieselfde dag opgespoor word nie, is dat hulle dikwels
eers dae of selfs weke later gevind word en/of na ʼn aaklige en pynlike lyding vrek weens ʼn kombinasie van bloedverlies, dors, honger en infeksie. As verantwoordelike jagters behoort ons alles in ons vermoë te doen om die tipe situasie te vermy. Besluit met die aanloop tot elke breinskoot of jy die vermoë het om dit suksesvol te doen. Elke keer wat jy misluk met ʼn breinskoot, analiseer die resultaat eerlik en gebruik die inligting in die toekoms om jou vermoe te beoordeel om ‘n breinskoot suksesvol te skiet.


’n Uitstekende DVD (R100) oor skootplasing is beskikbaar by die Jagterswinkel van die Vereniging by die nasionale kantoor en goedgekeur deur die SAJWV. Hierdie DVD illustreer verantwoordelike skootplasing uitstekend en wys die risiko’s van breinskote baie duidelik uit.


Geniet u jag en ek vertrou u gaan nie rede hê om spyt te wees oor ʼn kopskoot wat skeefgeloop het nie.