Jaggids – die eintlike jagter?
Die aangename herinneringe van my jagervarings oor die jare heen herinner my aan die rol van jaggidse en spoorsnyers. Ons jag op plase waar die gidse wissel van gewone plaaswerkers wat bloot die rol vervul omdat hy die plaas ken en hoofsaaklik toesien dat die jagter nie verdwaal nie, tot opgeleide gidse.
Die vereistes vir ’n goed opgeleide gids gedurende bv. ʼn Bosveldjag is om met die jagter in Afrikaans of Engels te kan kommunikeer (so jammer dat só baie van ons jagters nie ’n swart taal magtig is nie). Ander kenmerke sluit in goeie algemene kennis van die plantegroei; diere se gewoontes; spore en mis; fyn waarnemingsvermoë; korrekte gebruik van die wind en son; die vermoë om stadig en sag te beweeg; spoorsny en opspoor van die teikenwild; vermoë om die jagter in die mees gunstige posisie te kry vir ’n skoot; spoorsny en die opspoor van gekweste wild; hantering van ’n tweerigting radio; behoorlike en higiëniese slag van diere indien daar nie spesifiek slagters vir die doel op die plaas is nie; en die vermoë om bv. die kopvel of masker van ’n trofeedier volgens die korrekte tegnieke, sonder skade aan die vel, af te slag.