Riglyne vir die Gebruik van Loodkernkoeëls en Loodhael
Lood is ‘n swaar metaal wat in die natuur voorkom in lae konsentrasies en wat geen voordeel inhou vir die menslike liggaam nie. Inteendeel, verhoogde loodbloedvlakke kan lei tot ernstige afwykings in terme van die senuwee-, spysverterings- en voortplantingstelsel en dit affekteer ook sommige organe direk, veral die urienweg en niere. Loodbloedvlakke van 3 µg/dL (mikrogram lood per desiliter bloed) of 0.000003g/100ml, word as normaal beskou in die algemene volwasse bevolking, met 10 µg/dL wat gesien word as kommerwekkend en permanente gesondheidskade wat plaasvind by 80 µg/dL). Die gepaardgaande gesondheidsrisiko’s vir die mens is veral sterk by, kinders, swanger vroue en vroue wat beplan om kinders te hê, en hierdie is ook die mees kwesbare groepe. Loodbloedvlakke bo 5 µg/dL word reeds as kommerwekkend hoog beskou.