September 06 2010 19:11
LIDMAATSKAP WAT DIT BETEKEN
Lidmaatskap by die SAJWV – wat beteken dit vir die lid? André van der Merwe

Om te kan jag in Suid-Afrika en die ander jagvelde van sub-Sahara Afrika, soos dit tans beskore is vir die gemiddelde lid van die SAJWV, is ’n voorreg wat in sy huidige formaat waarskynlik volhoubaar is vir hoogstens nog een geslag! ’n Aanvegbare stelling in die eerste plek, en tweedens, wat het dit te doen met die prys van lidmaatskap by die SAJWV?

Antwoord: Elke sent van jou lidmaatskapfooie word bestee om jou en jou kinders se voorreg om môre en die dag daarna............... te kan jag, te beskerm!

Bogenoemde intrede tot dié artikel is bedoel om u aandag te trek. Prysstygings is nooit welkom nie, ongeag of die Vereniging moet tred hou met prysstygings op alle terreine van sy bedryf – soos op alle ander terreine in die land. Lidmaatskapfooie van die SAJWV is geen uitsondering nie. Dit is egter vir elkeen van ons belangrik om te weet dat ons waarde vir geld ontvang vir elke produk of diens waarvoor ons betaal.

• Jagters wêreldwyd, met Suid Afrika geen uitsondering nie, moet dikwels hoor hoe onaanvaarbaar hul aktiwiteite as jagters is. Die kritici is persone of groepe persone nasionaal en internasionaal, wat hulself die reg aanmatig om hulself voor te doen as die enigste mense wat optree in belang van bewaring van diere- en plantlewe.

• Dan is daar die individue en groepe wat hulself beywer om wettige vuurwapeneienaarskap te beperk en/of te stop gebaseer op hul eie agendas!

• Beide jag en vuurwapenbesit is wettig in Suid-Afrika en word beskerm in terme van die Grondwet van Suid-Afrika. Vry aangehaal, is daar egter ’n gesegde wat rofweg soos volg lui: “verkondig ’n leuen lank genoeg en dit word later as die waarheid aanvaar en oorvertel!”.

Die omvang van die wêreldwye aanslag op die jag en vuurwapenbesit word deur te veel van ons onderskat. ’n Goeie voorbeeld wat elke lid van die Vereniging se lede (en elke vuurwapeneienaar daarbuite) direk raak, is die probleme (let wel, die probleme en nie die beginsel nie) rondom herlisensiëring van bestaande vuurwapens en/of die lisensiëring van nuwe vuurwapens. Elkeen van die Vereniging se aktiwiteite op internasionale, nasionale, provinsiale en takvlak, is gemik op die beskerming van die belange van ons toekoms as jagters en vuurwapenliefhebbers!

1) Wat word deur die SAJWV gedoen om die lid se individuele reg om die jag te beoefen (nie net vandag nie, maar ook in die toekoms) te beskerm?

Ons jagters is bevoorreg om te jag in dele van ons land en in die res van sub-Sahara Afrika waar die verskeidenheid van jagbare spesies steeds natuurlik voorkom. Elkeen van ons sal graag wil sien dat dit so behoue sal bly om weer en weer te kan besoek en te beleef. Ons is egter met reg bekommerd in ons alledaagse lewe, wanneer ons rondom ons en in die media sien hoe die natuurlike hulpbronne oorbenut, besoedel, verniel, bemors, vernietig en doodgemaak word! Die jagter is vanweë sy belangstelling, direkte kennis en passie, in ‘n unieke posisie om in sy onmiddelike invloedsfeer ‘n reuse bydrae te maak en invloed uit te oefen deur bewaringspraktyke en –idees te ondersteun. Maar wat doen elke lid enersyds en die Vereniging andersyds kollektief om ons verantwoordelikhede in terme van bewaring na te kom? Die SAJWV het homself die afgelope twee jaar sterk begin posisioneer binne die konteks van bewaring en die Uitvoerende Komitee het besluit dat dit gerade is dat die SAJWV lidmaatskap verkry van ’n erkende en gerespekteerde internasionale bewaringsorganisasie wat positief ingestel is teenoor die jag.

Die keuse het geval op die International Council for Game and Wildlife Conservation (CIC) met sy hoofkantoor in Boedapest, Hongarye. Die SAJWV het reeds in 2007 aansoek gedoen om lidmaatskap van CIC. Die SAJWV is uitgenooi om die 55ste Algemene Jaarvergadering van die CIC te Marrakesj (Marokko) by te woon ten einde die SAJWV se aansoek om lidmaatskap te stel en te motiveer. Die President van die SAJWV – Prof Pieter Potgieter- het die weeklange konferensie in Marrakesj in 2008 namens die SAJWV bygewoon en ’n “Powerpoint”-aanbieding oor die SAJWV gedoen. Uit die aanbieding was dit duidelik dat die SAJWV ’n “swaargewig” assosiasielid van CIC sal wees en dat ons oor die wil en vermoë beskik om ’n wesenlike bydrae tot die verwesenliking van die CIC se doelstellings te maak, veral hier in Suid-Afrika.

Ons lidmaatskapaansoek is entoesiasties aanvaar.

Die hooftema van die Algemene Jaarvergadering was: “Hunting – a tool for sustainable rural development” – ’n tema wat vir ons in Suid-Afrika van allergrootste belang is. Dit het gou duidelik geword dat jag in die internasionale konteks slegs geregverdig kan word indien dit binne die raamwerk van volhoubare benutting as bewaringstrategie aangebied word. Die Wereldbewaringsbond (IUCN) het hierdie konsep reeds ’n paar jaar gelede aanvaar en die CIC het dit in sy visie opgeneem. Die SAJWV het dus ongetwyfeld die regte stap geneem met sy besluit vroeër van jaar om homself sterker in die bewaringsomgewing te posisioneer.

Die Vereniging se leuse van “Bewaring deur Volhoubare Benutting” pas presies binne die filosofie van die CIC en is by voorlegging met goedkeuring begroet deur die Algemene Jaarvergadering van die CIC! Slegs enkele Suid-Afrikaanse assosiasies is lede van CIC nl: PHASA, CHASA, WRSA en nou ook SAJWV. Daar word tans gewerk aan om die verskillende organisasies en enkele individue in Suid-Afrika met lidmaatskap van CIC gesamentlik in ’n Suid-Afrikaanse delegasie van CIC te struktureer en om ’n CIC program vir Suid-Afrika te ontwikkel.

Die SAJWV is oortuig dat die CIC, in die vorm van ‘n Suid Afrikaanse been daarvan, as CIC-SA, die mondstuk moet word van die hele jag-en wildlewe-industrie in Suid-Afrika wat gesaghebbend op nasionale en provinsiale vlak kan praat en optree. Dit is ook nodig dat CIC-SA die CIC behoorlik inlig oor die jag- en bewaringsituasie in Suid-Afrika en die CIC se hulp en ondersteuning mobiliseer om druk op Suid-Afrikaanse besluitnemers uit te oefen wanneer nodig.

Die SAJWV by monde van sy Hoof Uitvoerende Beampte en Visepresident Bewaring neem deurlopend deel aan verskeie van die Departement Omgewingsake- en Toerisme se beleidmakende forums soos:

• Nasionale Norme en Standaarde vir die bestuur van olifant populasies;

• Nasionale Norme en Standaarde vir jag in Suid-Afrika;

• Threatened or Protected Species (TOPS);

• Damage Causing Animals (DCA);

• Alien and Invasive Species.

Verskeie Takke het oor die afgelope paar jaar die inisiatief geneem om habitatte te beskerm en te hervestig, spesies se voortbestaan te verseker en publisiteit aan bewaring te verleen.

As ’n strategiese stap om die SAJWV se bewaringsportefeulje uit te bou is dr Herman (Krappies) Els in Augustus 2008 aangestel as Bestuurder vir Bewaringskoördinering. ’n Bewaringsbeleid is reeds saamgestel aan die hand van die SAJWV se Bewaringshandves, en dit sal vanaf 2009 in alle erns geïmplementeer word nadat dit in November 2008 deur die SAJW se Kongres goedgekeur is.

2) Wat word deur die SAJWV gedoen om die lid se individuele reg om vuurwapens te besit te beskerm?

By die Jagtersforum vergader die SAJWV kwartaalliks saam met ander geakkrediteerde jagtersverenigings om die gemeenskaplike prosesse en probleme rondom die nuwe Wet op Vuurwapenbeheer te bespreek. Hierdie probleme word met senior personeel van die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) bespreek in die Jagters/SAPD Konsultatiewe Forum wat volg op elke Jagtersforum vergadering. ’n Lid wat probleme en vertragings ondervind met vuurwapenlisensie aansoeke, kan met reg vra: “maak die gesprekke met die SVR enige positiewe bydrae?” Een van die versoeke aan die SVR was om voorkeur te gee aan Bevoegdheidsertifikate en aansoeke vir nuwe vuurwapens. Die rede vir die versoek is die feit dat bestaande vuurwapens se lisensies geldig bly indien die aansoek om herlisensiëring ingedien is, tot die aansoek om herlisensiëring goed- of afgekeur is, maak nie saak hoe lank dit neem nie. Intussen besit die persoon steeds sy bestaande wapen wettig en geniet hy/sy die gebruik daarvan. Dit het dus nie dieselfde negatiewe invloed op die aansoeker as met ’n nuwe vuurwapen, wat hy nie in besit kan neem en gebruik alvorens sy lisensieaansoek vir die nuwe vuurwapen, nie goedgekeur is nie.

Wat ook aan die SVR verduidelik is dat die vuurwapenhandelaars daarenteen se besigheid afhanklik is van die spoedige uitreiking (binne ’n redelike tyd) van nuwe vuurwapenlisensies! Die voorwaarde is natuurlik dat die aansoeker van ‘n nuwe vuurwapenlisensie reeds in besit van ’n Bevoegdheidsertifikaat moet wees, daarom ook die versoek aan die SVR dat aansoeke om Bevoegdheidsertifikate vooorkeur moet kry saam met lisensies vir nuwe vuurwapens. Alhoewel die korter goedkeuringsperiode vir nuwe vuurwapens nog nie algemeen plaasvind nie, is daar reeds hier en daar terugvoer vanaf lede waarvan die nuwe vuurwapenlisensie aansoeke wel binne drie maande goedgekeur is.

Nog ’n versoek aan die SVR was dat die proses om aansoek vir ’n loopvervanging op bv. ’n jaggeweer ook vinniger afgehandel word. Indien bv. ‘n 308 Win geweer se loop vervang word deur ’n geregistreerde wapensmid (met ’n verklaring deur die wapensmid dat die ou loop vernietig is) met ’n nuwe 308 Win loop. Hoekom moet die lisensiëringsproses so lank neem? Hierdie proses is nou ook aangespreek en die skrywer het self in Maart 2007 aansoek gedoen vir twee nuwe lope op jaggewere en teen Julie 2007 (vier maande later) was die goedkeuring afgehandel. Bogenoemde twee voorbeelde dui daarop dat suksesse wel bereik word met onderhandelinge met die SVR.

Hulp vanaf Inyathipark aan vuurwapeneienaars om hul by te staan met aansoeke is die bewys vir Toegewyde Jagters dat hul lidmaatskap op datum is. ’n Endossement van die geskiktheid van ’n lid se jagwapens word op aanvraag aan lede uitgereik. Die uitreiking van hierdie endossement is ook die resultaat van onderhandelinge van die Jagtersforum met die SVR. Hierdie proses maak baie meer sin, aangesien die geakkrediteerde jagtersverenigings in ’n baie beter posisie (kundigheid i.v.m. jagwapens) is as die gemiddelde polisiebeampte wat met aansoeke werk, om die geskiktheid van ’n jagwapen te beoordeel.

In die afgelope jaar is groot druk op die SVR uitgeoefen om die vlak van dienslewering te verhoog ten opsigte van herlisensiëring van vuurwapens en die uitreiking van nuwe lisensies. Dit is egter duidelik dat die SAPD/SVR se vermoë om die nuwe stelsel van lisensiëring doeltreffend te bestuur, baie laag is. Die agterstande is so groot dat daar nie veel hoop is om binnekort ’n verbetering in die situasie te verwag nie.

Ten spyte hiervan maak die SAJWV, saam met ander rolspelers in die jagwapengemeenskap, ongetwyfeld ’n groot bydrae om sy lede in staat te stel om hul vuurwapens te behou en om die herregistrasieproses so glad moontlik te laat verloop. In ’n ooreenkoms met die SAPD/SVR is ’n nodale punt geskep waar tipiese probleme aangemeld word en oplossings voor gesoek word.

Ongelukkig is dit eenvoudig onmoontlik om elke individuele lid se probleme met herlisensiëring op te neem, aangesien die volume onhanteerbaar sal wees. Die beginselsake word egter aangespreek, wat die proses vir lede behoort te vergemaklik.

Dringende hofaansoek en Regshulpfonds – Teen die tyd weet die meeste vuurwapeneienaars van die suksesvolle dringende hofaansoek wat die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) teen die Minister van Veiligheid en Polisie gebring het en dat vuurwapenlisensies wat ingevolge die vorige Vuurwapenwet (1969) uitgereik is, steeds geldig bly. Sien www.sahunt.co.za – Urgent court application – vir detail inligting insake die proses. Dit is egter net stap een en tensy daar suksesvol met die SAPD onderhandel word tot bevrediging van die SAJWV, moet daar voortgegaan word met die hoofhofaansoek.

Die hoofhofaansoek, om sekere aspekte van die Wet op Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000), ongrondwetlik te verklaar, moet dan volg. Dit kan groot finansiële uitgawes vir die Vereniging meebring. Indien die SAJWV so ‘n saak met kostes wen, sal die finansiele implikasies vir die staat se rekening wees. Tot en met die finale uitslag moet die Vereniging gereed maak om die hoofhofaansoek met finansiele reserwes aan te pak. Baie dankie aan alle individue en organisasies wat reeds bydraes gemaak het tot die SAJWV se Regshulpfonds. Verdere bydraes word egter benodig en vuurwapeneienaars en belangegroepe word vriendelik versoek om die Regshulpfonds te ondersteun. Bydraes aan: SAJWV, ABSA, Pretoria Noord, rek no: 0144 399 00 77, takkode 632005, deposito verwysing: Regshulpfonds.

3) Hoe kommunikeer die SAJWV sy werksaamhede met die lid?

Die SA Jagter/Hunter tydskrif is een van die belangrikste tasbare produkte van die Vereniging wat die lede ontvang. Daar is twee opmerkings wat gereeld gemaak word deur lede wat direk van toepassing is op die SA Jagter tydskrif. Die eerste opmerking is gewoonlik hoekom die SAJWV se lidmaatskapfooie soveel hoër is as jagtersvereniging X of Y. Wanneer uitgewys word dat die koste vir die Vereniging per tydskrif R120-00 per jaar beloop (R10-00 x 12 uitgawes) en deel uitmaak van die lid se voordele, is die volgende vraag dadelik: Hoekom kan ‘n lid nie ’n keuse uitoefen of hy die tydskrif wil ontvang, al dan nie (met ’n gepaardgaande besparing van tans R120-00-00 per jaar), aangesien sommige lede na bewering “die tydskrif gladnie lees nie”? Die SA Jagter/Hunter tydskrif is die SAJWV se nasionale kommunikasiemiddel direk met elke lid, eenkeer per maand, om lede op hoogte te hou i.v.m. jag-, skiet, bewaring en buiteluglewe verwante sake en die aktiwiteite van die Vereniging op nasionale en Takvlak (deur die Taknuus bylae). Die SA Jagter/ Hunter tydskrif as kommunikasiemiddel met die lede van die SAJWV is van strategiese belang vir die Vereniging in die era waarin ons leef en kan nooit genoeg beklemtoon word nie! Die tydskrif is ’n uiters belangrike skakel in die ketting van dienste aan die lid. Dikwels skakel ’n lid die nasionale kantoor met een of ander vraag en gereeld kan die lid verwys word na ‘n artikel of brokkie inligting uit vorige uitgawes van die tydskrif om sy/haar vraag in detail te beantwoord. ’n Baie relevante voorbeeld is die nuwe Wet op Vuurwapenbeheer (Wet 60 van 2000) en die implikasies daarvan op elke vuurwapeneienaar. Met die aanvanklike aankondiging van die nuwe Wet wat op pad is, het elke vuurwapen-eienaar onwillekeurig begin wonder of dit die begin van die einde is, in terme van vuurwapeneienaarskap soos ons dit geken het in Suid-Afrika sedert 1652! Met die aanvanklike bekendstelling van die Witskrif van die nuwe Wet op Vuurwapenbeheer gedurende 1998 (reeds 10 jaar gelede) was die SAJWV by name van die bekende oom Nic van der Merwe (eertydse President van die Vereniging) reeds betrokke by die onderhandelingsprosesse. Die duidelike doelwit van die Witskrif was om vuurwapenbesit in private hande dramaties in te perk! Militêre kalibers soos bv. die 303 British, 30-06 Springfield en 6.5 x 55mm Mauser om net ’n paar te noem was op die lys van kalibers wat nie toegelaat sou word nie!

Die betrokkenheid van organisasies soos die Vereniging, reeds op daardie stadium, het verseker dat vuurwapeneienaars vandag aansienlik beter daaraan toe is (let wel beter, nie goed nie)! Soos die proses vorder, met al die gepaardgaande pyne, word lede deurlopend op hoogte gehou van die jongste verwikkelinge d.m.v. die tydskrif.

Die bylae tot die tydskrif soos bv. die gewilde Bos en Kombuis resepteboek, die reekse oor skootplasing en die Limpopo en Namibië jagbylae, voeg verdere waarde toe tot die tydskrif.

4) Vennootskappe met ander internasionale organisasies met dieselfde doelwitte as die SAJWV Op internasionale vlak is daar sedert 2004 verskeie ander verbintenisse met organisasies met gemeenskaplike belange aangeknoop.

Die SAJWV is vir strategiese en statutêre redes lid van die International Hunters Education Association (IHEA) en hierdie betrokkenheid hou verskeie voordele in. Behalwe dat dit ’n wesenlike deel van ons akkreditasie as jagtersvereniging uitmaak, is die uitruil van kundigheid op die gebied van opleiding seker die belangrikste voordeel. Gedurende Desember 2007 het ons ook lidmaatskap van die National Rifle Association (NRA) verwerf as deel van ons doelwit om akkreditasie te bekom as sportskietliggaam. Die NRA is ’n organisasie wat 12,5 miljoen vuurwapeneienaars in die Verenigde State van Amerika verteenwoordig!

By die Kongres van 2007 het die afgevaardigdes met entoesiasme goedgekeur dat die SAJWV akkrediteer ten einde ons lede wat ook sportskuts is, te kan akkommodeer sonder om aan meer as een vereniging te behoort.

5) Aktiwiteite van die SAJWV op nasionale vlak Lede van die Uitvoerende Komitee en Nasionale Bestuur (veral die President, Adjunk-President, Visepresident: Bewaring, Hoof Uitvoerende Bestuurder en die Bewarings-bestuurder) is betrokke op nasionale forums by elke belangrike onderwerp i.v.m. jag, skiet en bewaring.

Die noodsaaklikheid hiervan sluit weer eens direk aan by die aanhef tot die artikel wat die nasionale konteks betref. Die deurlopende betrokkenheid by die forums is krities om te verseker dat die Vereniging wat meer as 40 000 geregistreerde lede verteenwoordig, by elke moontlike geleentheid insette lewer en dikwels “die voet dwars neersit” wanneer besluite geneem word wat nie in die lede se belang is nie – dit gebeur al te dikwels.

By die Hunters and Wildlife Associations of South Africa (HAWASA) vergader die SAJWV gereeld met ander rolspelers in die bedryf waar gemeenskaplike standpunte ontwikkel word oor sake wat met die regering bespreek word. Die Wildlife Forum is ’n raadplegingsforum wat deur die departement Omgewingsake en Toerisme (DEAT) geskep is om met rolspelers in die wild- en jagbedryf oorleg te pleeg in verband met bewaringsaangeleenthede en die wyse waarop dit die wild- en jagbedryf raak. Die afgelope jaar het die SAJWV en ander Forum rolspelers, hulle invloed laat geld ten opsigte van die ontwikkeling van norme en standaarde vir jag. Tot dusver was die pogings nie baie geslaagd nie, aangesien die DEAT nie gehoor gegee het aan die Forum se versoek om van die begin af by die proses betrek te word nie. Dit veroorsaak egter dat HAWASA en spesifiek die SAJWV, net meer vasberade is om betrokke te bly en die proses tot voordeel van elkeen in die bedryf te beïnvloed. Net soos met die vuurwapenwet, sal die alternatief om nie betrokke te bly nie, ten spyte van die frustrasies, rampspoedig wees!

Soos met enige proses waar meer as een party se belang betrokke is, het ’n poging om ‘n party se belang te beskerm slegs ’n kans op sukses indien die party deel bly van die proses (gesprek). Indien die party nie deel is van die proses nie, word hy niè gehoor nie – dit is ’n eenvoudige waarheid wat soms vergeet word wanneer daar emosioneel geraak word oor bogenoemde sake! ’n Belangrike uitvloeisel van die HAWASA is die samewerking met die Wildlife Ranching SA (WRSA). Die vennootskap en ’n gesonde verhouding tussen die jagters en wildplaaseienaars, is uiters belangrik vir die langtermyn toekoms van jag, soos die individuele jagter en lid van ons Vereniging dit ken. Daar is ’n gemeenskaplike siening tussen jagtersverenigings dat daar groter eenheid in jagtersgeledere in Suid Afrika moet wees ten einde die bedreigings teen jag en jagters teë te staan en ’n groter gesamentlike en baie meer duidelike rol in die jagverwante- en bewaringsbeleid te speel. Daarom is daar reeds ’n geruime tyd samesprekings tussen die jagtersverenigings, wat die SAJWV insluit, oor groter eenheid. Hierdie samesprekings het gedurende 2008 uitgeloop op die samestelling van ’n verteenwoordigende taakspan, met die opdrag om die verstandhoudings wat in die verkennende gesprekke bereik is, te konsolideer tot ’n konsensusdokument wat ’n vaste basis kan bied vir verdere onderhandelinge. Die organisasies wat aanvanklik aan die samesprekings deelgeneem het, is die volgende:
• Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJWV)
• Konfederasie van Suid-Afrikaanse Jagtersverenigings (CHASA)
• Laeveld Jagters-, Vuurwapenversamelaars-, Sportskiet en Wildbewaringsvereniging
• SA Wingshooters
• National Shooting Association (NSA)
• Professional Hunters Association of South Africa (PHASA)

Die eerste weergawe van die konsensusdokument is reeds deur die bestuursliggame van al die deelnemende organisasies oorweeg en met sekere voorbehoude goedgekeur. In die geval van die SAJWV is die eerste konsensusdokument m.b.v. insette deur die Uitvoerende Komitee en die Nasionale Takvoorsittersforum omskep in ’n tweede weergawe van die dokument vir voorlegging aan die SAJWV se Kongres van 2008. Onderhandelinge oor die aspekte waaroor daar nog nie konsensus bereik kon word nie, sal direk daarna voortgesit word. Intussen is alle jagorganisasies wat tot dusver van die gesprek uitgesluit was, in die openbare media uitgenooi om aan die gesprek te kom deelneem op die basis van die konsensus-dokument. Hoewel heelwat struikelblokke nog oorkom moet word, is daar sterk aanduidings dat die politieke wil om ’n nuwe bedeling tot stand te bring, uiteindelik bestaan, en dat daar uitgesien kan word na ’n bedeling waarin alle jagters in Suid-Afrika deur een liggaam verteenwoordig word en deur een mondstuk praat – ’n ideaal waarna ons al jare lank streef.

6) Die besluitnemingsprosesse en beleid vir bestuur van die SAJWV.

Die Uitvoerende Komitee is die rigtinggewende liggaam en die Hoof Uitvoerende Beampte en die bestuurders van die verskillende afdelings is verantwoordelik vir die bestuur van die Vereniging. Die Konstitusie en Interne Reëls skep die regsbasis vir ’n demokratiese en goedbestuurde ledevereniging. Sedert 2006 is daar klem geplaas op bestuursprosesse, beleide en monitering. In die “nuwe era” was daar ’n deurlopende strewe na professionele strukture om in staat te wees om die verwagte groei van die Vereniging te hanteer. Daar is besef dat die hele bestuur van die Vereniging ondersteuning nodig het! Die nuwe konstitusie maak voorsiening vir ’n liggaam wat wyer verantwoordelikhede het as nét finansies. Vir daardie rede is die Ouditkomitee saamgestel waarop die Adjunk President dien en ten minste twee Takvoorsitters. Verder dien daar tans twee lede op die komitee wat Geoktroieerde Rekenmeesters is en ook die verteenwoordigers van die Vereniging se Ouditeure, Price, Waterhouse en Coopers (PWC). Die lede kan dus rustig wees in die wete dat die Ouditkomitee ’n wakende oog hou oor hulle belange!

Die Nasionale Takvoorsittersforum (NTVF) en jaarlikse Kongres is strategiese liggame in die besluitnemingsprosesse van die SAJWV. Die Takvoorsitters kies by ‘n NTVF as hulle verteenwoordiger op die Uitvoerende Komitee (UK) die Visepresident Ledesake. Die Takvoorsitters via die NTVF as adviesliggaam, het direkte inspraak in demokratiese terme by die UK by monde van die Visepresident Ledesake. Die Takvoorsitters kom ten minste tweemaal per jaar byeen vir die vergaderings van die NTVF.

Die jaarlikse Kongres is die hoogste gesag van besluitneming en sekere besluite kan net deur die Kongres bekragtig of afgewys word. By die jaarlikse Kongres word elke tak verteenwoordig deur ’n Takafvaardiging, proporsioneel tot die ledetal van die Tak. Die Kongres vir 2008 is deur ongeveer 300 afgevaardigdes bygewoon. Die koste van die NTVF en die Kongres i.t.v. reis en akkommodasie van al die partye wat die UK insluit, by die geleenthede is baie hoog. Die voordele daarvan om die Takvoorsitters en lede direk betrokke te hou by besluitneming maak die koste daarvan deur en deur die moeite werd om te verseker dat die Vereniging deursigtig bestuur word.

7) Die plek van die Takke en Streke in die struktuur van die Vereniging.

Met ’n Vereniging bestaande uit 40 000 geregistreerde lede versprei oor die lengte en breedte van Suid-Afrika, moet direkte aktiwiteite soos bv. skietdae, ledevergaderings en opleiding gedesentraliseer word, om dit enersyds moontlik te maak en tweedens effektief te doen. Die SAJWV doen dit uiters suksesvol en die 62 Takke van die Vereniging skitter in die diens wat hulle aan lede op takvlak lewer. Wat die sukses van die Takke so merkwaardig maak, is die feit dat dit bestuur en bedryf word deur entoesiastiese lede wat nie vergoed word daarvoor nie! Om ’n nasionale standaard van dienslewering te verseker, is daar ’n dokument vir die Ontwikkeling, Organisasie en Bestuur van Takke saam met ’n Tak-evaluasieprogram wat grotendeels gebaseer is op selfevaluasie deur die Takbestuur. Elke Takbestuur gebruik ’n CD, opgestel en verskaf deur Inyathi Park, wat meer as 40 dokumente bevat wat wissel van die Konstitusie van die Vereniging tot die skietoefeninge – in kort alle inligting wat Takbestuur benodig om ’n Tak volgens ’n eenvormige nasionale standaard te bedryf. Ondersteuning vanaf Inyathi Park word verskaf deur die Bestuurder: Takontwikkeling d.m.v. besoeke aan Takke, gesprekke met takbesture en bystand met probleemoplossing op Takvlak. Deurlopende ondersoeke na versoeke om nuwe takke word ondersoek en evalueer om die lewensvatbaarheid daarvan te bepaal en nuwe takke te stig waar dit wel lewensvatbaar is.

Gedurende 2008 is die streekmodel gefinaliseer en is elkeen van die Takke nou ingedeel in een van 12 Streke, elkeen met ’n streekkoördineerder, wat gesamentlike tak-aktiwiteite, waar moontlik koördineer tot wedersydse voordeel van takke en individue soos o.a:
• Opleidingsaktiwiteite;
• Streek-Presidentskietkompetisies
• Intertakskietkompetisies op streekvlak;

Met ’n belangrike gevolg dat elke Streek sy eie unieke kultuur uitbou binne die SAJWV.

Die suksesvolle bedryf van die Takke en Streke onderskei die SAJWV op verskeie terreine en het nie naastenby sy gelyke in Suid-Afrika nie! Die Takke is die hartklop van die SAJWV. ’n Lid wat nie deelneem aan aktiwiteite van die Vereniging op Takvlak nie, laat ’n groot gedeelte van sy beskikbare voordele.....................onbenut!

Besoeke aan Takke deur spesifiek die Bestuurder: Takontwikkeling en die Opleidings-bestuurder word met gereelde reëlmaat uitgevoer om te verseker dat die infrastruktuur van die Vereniging deurlopend uitgebou word. Die res van die Inyathipark Bestuur en die Uitvoerende Komitee besoek ook deurlopend die Takke. Hierdie besoeke het finansiële implikasies i.t.v. reis en akkommodasie koste, maar verseker dat die Bestuur en Uitvoerende Komitee deurlopende kontak met die lede behou en sodoende eerstehands kennis dra van die lede en Takke se behoeftes.

8) Die funksie van Inyathipark (Nasionale Kantoor) te Derdepoort, Pretoria Inyathipark is moontlik gemaak deur die erflating van Nico van Rooyen.

Die oorspronklike erflating aan die SAJWV het ’n groot woonhuis in Pretoria Noord en ’n vaste belegging ingesluit. Met die verkoop van die woonhuis is die Inyathipark terrein en geboue aangekoop gedurende 2005. Die batewaarde van vaste eiendom van die SAJWV het gegroei van R3 miljoen in 2005 na ongeveer R12 miljoen teen die einde van 2008 a.g.v. goeddeurdagte besigheidsbesluite van die Uitvoerende Komitee en Bestuur van die Vereniging. By Inyathipark word die bestuur, administrasie en finansies van 40 000 lede en die ondersteuning van alle werksaamhede van die Vereniging op nasionale en internasionale vlak gedoen met ’n voltydse personeel van 20 persone wat die Bestuur insluit.

’n Aanduiding van die grootte van die werkslas, is die ongeveer 20 000 inkomende en uitgaande oproepe wat per maand hanteer word deur die personeel! Die SAJWV se Toegewyde Jagters ledetal staan tans op ongeveer 12 500. Die verantwoordelikheid en administrasie van die Toegewyde Jagterslede en die verslagdoening van hul jaarlikse aktiwiteite aan die Sentrale Vuurwapen Register, is ’n funksie van Inyathipark. Die funksie word by tye onnodig bemoeilik deur die apatiese houding van ’n sekere groep lede met Toegewyde Jagters status. Hierdie apatiese groep (en hulle weet wie hulle is) moet besef dat Toegewyde Jagter status ’n individuele verantwoordelikheid is volgens die nuwe Wet op Vuurwapenbeheer (Wet 60 van 2000) en dat niemand die verantwoordelikheid namens hulle kan/gaan aanvaar om hul Toegwyde Jagter status in stand te hou nie! Hierdie is ’n tipiese voorbeeld waar lede deurlopend d.m.v. die SA Jagter tydskrif op hoogte gehou word met inligting oor die spesifieke en baie belangrike proses! Opleiding, in al sy fasette, is ’n kerndimensie van die Vereniging se missie. Skiet- en jagopleiding is een van die belangrikste verantwoordelikhede van die Vereniging, waarmee waarde toevoeg word vir sy lede.

In die opleidingsmodel wat die Vereniging navolg staan drie vlakke van opleiding sentraal;
• Junioropleiding;
• Vaardigheidsopleiding vir die doeleindes van die Vuurwapenwet en
• Bekwaamheidsopleiding met die oog op verwerwing van toegewyde jagterstatus.

Op meer as een terrein, selfs internasionaal, word die opleidingsmodules van die Vereniging baie hoog aangeskryf. Die voordele wat lede op takvlak geniet i.t.v. opleiding, het sy oorsprong by Inyathipark se Opleidingsdepartement. Baie tyd word ook deur die Opleidingsbestuurder spandeer by takke landwyd om voldoende opleiers op te lei, wat op hul beurt weer die lede op Takvlak kan oplei. Wat het dit alles te doen met die individuele jagter wat net belangstel in die wild wat hy jaarliks beplan om te jag?

Ek dink u sal met my saamstem dat elke lid wat jag, bewaring en vuurwapenbesit kosbaar ag, in die era waarin óns leef, niks meer as vanselfsprekend kan aanvaar nie! Die prys wat u betaal i.t.v. lidmaatskapfooi word letterlik Rand vir Rand deur die SAJWV gebruik om u belange en die van u nageslag te beskerm! Gebaseer op bostaande is dit waarskynlik só dat die Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewarings-vereniging die toonaangewende jagtersvereniging in Suid-Afrika is en besig is om baie GROOT en DIEP spore in die jag-en wildbedryf te trap tot voordeel van sy lede.

Pres John F. Kennedy van die VSA het gevra: “Do not ask, what my country can do for me, but what I can do for my country?” Wat doen u vir die SA Jagters –en Wildbewaringsvereniging? Dit is sekerlik van toepassing op elke lid van die SA Jagters –en Wildbewaringsvereniging
Comments
No Comments have been Posted.
Post Comment
Please Login to Post a Comment.
Ratings
Rating is available to Members only.

Please login or register to vote.

No Ratings have been Posted.
Unique Visits :-
Menu
· Wie's Ons-About Us
· Takke-Branches
· Nuus-News
· Artikels-Articles
· Belange / Interest Areas
· Skietsake / Shooting Info
· Jagsake / Hunting Info
· Toegewyde / Dedicated
--- Dienste / Services ---
· Kontak Ons
· Navrae / Queries
· Sluit Aan / Join Here
· Photo Gallery
· Aflaai / Downloads
· Weer / Weather
· Soek / Search
Links
Hunter News letters
Koop en Verkoop
Hunting Oppurtunities
Sponsors - Advertise here!

Hunter Greetings
Latest News
Latest Posts
Branch Mgt / Takbestuur
Username

Password



For official use only. Forgotten your password?
Request a new one here.
Events
<< September 2010 >>
Mo Tu We Th Fr Sa Su
    1 2 3 4 5
6 7 8 9 10 11 12
13 14 15 16 17 18 19
20 21 22 23 24 25 26
27 28 29 30      
Legal
Render time: 0.11 seconds 2,255,640 Page Loads