Competitions

Skietaktiwiteite van die SAJWV op tak-, streek en nasionale vlak


Agtergrond

Vyftig jagters het op ‘n Saterdagoggend in Oktober 1949 by die Pretoria Dieretuin vergader om ‘n jagvereniging te stig. Sedert sy ontstaan, was bewaring ‘n prioriteitvir die Transvaal Jagtersvereniging wat ook die ondersteuning van die regering van die dag geniet het. In 1957 het die Vereniging sy naam verander na die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging. Sederdien het die Vereniging met rasse skrede gegroei tot  die huidige 26 500 lede wat landswyd in 67 takke ingedeel is. Die takke is weer in in 13 streke ingedeel.

Na die implementering van die nuwe Wet op Vuurwapens, Wet 60 van 2000, het die SAJWV se posisie in die bedryf verstewig toe dit ‘n regsgeding teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit in die Hoër Hof aanhangig gemaak het. Die Hof het in die guns van die SAJWV beslis en die oorgangsmaatreëlings in die wet is ter syde gestel en daarmee is die regte van duisende vuurwapeneienaars op grond van hul vorige lisensies bevestig. Die regte van vuurwapeneienaars gaan egter ook saam met die verantwoordelike besit en veilige gebruik van vuurwapens. Dit is dan veral by die gebruik van vuurwapens in die jag omgewing waar die SAJWV ‘n groot rol het om te speel.

Read more...

SAJWV Skietkompetisies


1. Presidentskietkompetisies op streek en nasionale vlak

Die jaarlikse nasionale Presidentskietkompetisie van die SA Jagters- en Wildbewarings-vereniging het oor die afgelope 9 tot 10 jaar ontwikkel in een van die prestige geleenthede op die Vereniging se skietkalender vir individuele skuts. Die vereiste kwalifiserende tellings wat ’n skut op Takvlak moes behaal, het verseker dat skuts deur die jaar hard werk aan hul skietstandaard, om verseker te wees van ’n uitnodiging na die gesogte jaarlikse skietkompetisie.

Dit het toenemend duidelik geword dat een nasionale Presidentskietkompetisie soos dit in die verlede aangebied is, een groot tekortkoming gehad het en dit was die beperking wat dit geplaas het op deelname en die aanmoediging van deelname. Deelname was in die verlede grootliks deur skuts uit die Gauteng takke. Die koste vir reis en verblyf het dit vir lede uit bv. provinsies soos die Wes-Kaap,  Oos-Kaap en Noord-Kaap moeilik (duur) gemaak om in noemenswaardige getalle deel te neem. Daarom is die strategiese besluit gedurende 2007 deur die Uitvoerende Komitee geneem om vir 2008 die Presidentskiet-kompetisie af te wentel na die streke om deelname en blootstelling aan dié skietkompetisie vir meer lede vanaf die takke in al die streke moontlik te maak.

Teen 2010 het die streekkompetisies ’n unieke karakter ontwikkel en die deelname neem elke jaar met rasse skrede toe. Die entoesiasme van deelnemende skuts het tot gevolg dat die kompetisies elke jaar meer en meer deelnemers betrek. Gedurende 2010 het 511 skuts deelgeneem aan die kompetisies in vergelyking met die 406 skuts  van 2009. Dit verteenwoordig ‘n toename in deelname van 26%!  Dit is ‘n besonderse suksesverhaal deur die streke van die SAJWV waarop die streke en takke met reg baie trots kan wees!

Read more...