Conservation Projects

Bewaringsaksies

SAJWV se bewaringsaksies word onder die vereniging se bewaringsvoertuig, Tinyarhi Bewaringsinisiatiewe bedryf.  Tinyarhi is as nie-winsgewende organisasie by die Departement Sosiale Ontwikkeling geregistreer en mag dus aan maatskappye wat BEE verpligtinge het, sertifikate uitreik vir donasies wat aan Tinyarhi vir sy werksaamhede gemaak word in plek daarvan dat maatskappye hulle eie sosio-ekonomiese ontwikkelingsprojekte hoef te bedryf.

Onder die vaandel van Tinyarhi, is die bewaringsaksies van die vereniging in twee fokusareas verdeel, naamlik (1) bewaringsprogramme met sub-projekte wat vanuit die nasionale kantoor te Inyathipark bedryf word, en (2) bewaringsprojekte wat landwyd deur ons takke bedryf word.

Die onderliggende fokus van al ons bewaringsaksies is daarop gerig om die veralgemeende persepsie dat jagters gewoon doodmakers van wild is, te verander na ’n gesig van jagters as bewaarders – wat ons in alle gevalle werklik is.

Op nasionale vlak bedryf die vereniging 4 bewaringsprogramme, te wete die Limpo-Kwena inisiatief, die vervaardiging van uilbroeikaste, die kweek en verspreiding van inheemse bome, en die gefokusde ondersteuning van die Nasionale Krugerwildtuin se anti-wildstroopeenheid.
Die vereniging is sedert Julie 2008 in ’n samewerkingsooreenkoms met die Limpo-Kwena Bewaringsorganisasie.  Limpo-Kwena is ’n organisasie wat bestaan uit die wildplaaseienaars aan die suidoewer van die Limpoporivier tussen Platjan en Duplessis in die Alldaysomgewing.  Die samewerkingsooreenkoms is op die volgende gerig:

  • die bestuur van olifante wat vanuit Botswana, waar die diere se getalle nie bestuur word nie, grootskaalse skade aan die rivieroewer aan die Suid-Afrika kant van die rivier aanrig;
  • die afronding van swart professionele jagters in samewerking met LEDET (Limpopo se bewaringsafdeling);
  • die aanbied van BEE-gerigte veldgidsopleiding wat bestaan uit jaggidsopleiding en kursusse vir karkashantering, slag van wild, en vleis- en velverwerking (in gedeeltelike  samewerking met die Oosrandtak van die vereniging en die Noord-Gauteng Ereveldwagters [SANParke]).

Die uilbewaringsprojek wat bestaan uit die vervaardiging en verspreiding van uilbroeikaste in samewerking met Ford (hout uit bekisting van onderdele) en Mnr John Enslin van The Owl Hut wat die kaste vervaardig en na bestellers versend.

Die Impala inheemse boomkweek en –plant projek wat gerig is op die ontkieming van sade van geselekteerde inheemse bome en die kweek van saailinge vir verspreiding deur die hele land.

Ondersteuning van die anti-wildstroopeenheid van die Nasionale Krugerwildtuin is die  vereniging se gefokusde bydrae to die bewaring van renosters en ander skaars en bedreigde spesies wat deur wildstropery geraak word.  Hierdie projek word in samewerking met Laeveldjagters, SA Vlugskuts, die National Shooting Association en die ereveldwagters van stapel gestuur.

Uitstekende bewaringsinisiatiewe wat jaarliks ongeveer R2 miljoen beloop word op plaaslike vlak deur ons 63 takke wat landwyd versprei is, bestuur.  Hierdie bewaringsaksies is uiteenlopend en strek van die befondsing van luiperdnavorsing, tot die bewaring van ouvolk, van kraanvoëls, van renostervoëltjies, van miershooptiertjies, van die oribi en van reptiele tot by uile en vlêrmuise.  Tot by die oprigting van muisrestaurante langs groot paaie op die Oosrand om die dood van uile op die paaie te bekamp.  Die aanplant van inheemse bome op verskillende terreine en die bestuur van ’n aasvoëlrestaurant tot by die beskerming van die lammergeier is alles deel van die bewaringsinisiatiewe wat op takvlak bedryf word.

Dit is uit die aard van die saak binnelandse jagters se bydrae wat die impetus aan die fenominale groei in wildplase in die land ten gevolge gehad het (ongeveer 12,000 in totaal).  Wildplase beslaan nagenoeg 20% van ons grondgebied en hier word na beraming 3 maal meer wild bewaar as in formele reservate en wildtuine, met die uitsluiting van olifante en wildehonde wat elk ’n unieke bestuursprobleem verteenwoordig. Die ekonomiese bedryf van wildplase bevorder uit die aard van die genoodsaakde bestuurspraktyk, ook biodiversiteits-bewaring.