| 29 July 2010
Wat word deur die SAJWV gedoen om die lid se individuele reg om die jag te beoefen te beskerm?
Ons jagters is bevoorreg om te jag in dele van ons land en in die res van sub-Sahara Afrika waar die verskeidenheid van jagbare spesies steeds natuurlik voorkom. Elkeen van ons sal graag wil sien dat dit so behoue sal bly om weer en weer te kan besoek en te beleef. Ons is egter met reg bekommerd in ons alledaagse lewe, wanneer ons rondom ons en in die media sien hoe die natuurlike hulpbronne oorbenut, besoedel, verniel, bemors, vernietig en doodgemaak word! Die jagter is vanweë sy belangstelling, direkte kennis en passie, in ‘n unieke posisie om in sy onmiddelike invloedsfeer ‘n reuse bydrae te maak en invloed uit te oefen deur bewaringspraktyke en –idees te ondersteun. Maar wat doen elke lid enersyds en die Vereniging andersyds kollektief om ons verantwoordelikhede in terme van bewaring na te kom?
Die SAJWV het homself die afgelope twee jaar sterk begin posisioneer binne die konteks van bewaring en die Uitvoerende Komitee het besluit dat dit gerade is dat die SAJWV lidmaatskap verkry van ’n erkende en gerespekteerde internasionale bewaringsorganisasie wat positief ingestel is teenoor die jag. Die keuse het geval op die International Council for Game and Wildlife Conservation (CIC) met sy hoofkantoor in Boedapest, Hongarye. Die SAJWV het reeds in 2007 aansoek gedoen om lidmaatskap van CIC. Die SAJWV is uitgenooi om die 55ste Algemene Jaarvergadering van die CIC te Marrakesj (Marokko) by te woon ten einde die SAJWV se aansoek om lidmaatskap te stel en te motiveer. Die President van die SAJWV – Prof Pieter Potgieter- het die weeklange konferensie in Marrakesj in 2008 namens die SAJWV bygewoon en ’n “Powerpoint”-aanbieding oor die SAJWV gedoen. Uit die aanbieding was dit duidelik dat die SAJWV ’n “swaargewig” assosiasielid van CIC sal wees en dat ons oor die wil en vermoë beskik om ’n wesenlike bydrae tot die verwesenliking van die CIC se doelstellings te maak, veral hier in Suid-Afrika. Ons lidmaatskapaansoek is entoesiasties aanvaar. Die hooftema van die Algemene Jaarvergadering was: “Hunting – a tool for sustainable rural development” – ’n tema wat vir ons in Suid-Afrika van allergrootste belang is.
Dit het gou duidelik geword dat jag in die internasionale konteks slegs geregverdig kan word indien dit binne die raamwerk van volhoubare benutting as bewaringstrategie aangebied word. Die Wereldbewaringsbond (IUCN) het hierdie konsep reeds ’n paar jaar gelede aanvaar en die CIC het dit in sy visie opgeneem. Die SAJWV het dus ongetwyfeld die regte stap geneem met sy besluit vroeër van jaar om homself sterker in die bewaringsomgewing te posisioneer. Die Vereniging se leuse van “Bewaring deur Volhoubare Benutting” pas presies binne die filosofie van die CIC en is by voorlegging met goedkeuring begroet deur die Algemene Jaarvergadering van die CIC! Slegs enkele Suid-Afrikaanse assosiasies is lede van CIC nl: PHASA, CHASA, WRSA en nou ook SAJWV. Daar is tans ’n proses in plek onder leiding van Gary van den Berg (van Wildlife Ranching SA) en Prof Pieter Potgieter, om die verskillende organisasies en enkele individue in Suid-Afrika met lidmaatskap van CIC gesamentlik in ’n Suid-Afrikaanse delegasie van CIC te struktureer en om ’n CIC program vir Suid-Afrika te ontwikkel.
Die SAJWV is oortuig dat die CIC, in die vorm van ‘n Suid Afrikaanse been daarvan, as CIC-SA, die mondstuk moet word van die hele jag-en wildlewe-industrie in Suid-Afrika wat gesaghebbend op nasionale en provinsiale vlak kan praat en optree. Dit is ook nodig dat CIC-SA die CIC behoorlik inlig oor die jag- en bewaringsituasie in Suid-Afrika en die CIC se hulp en ondersteuning mobiliseer om druk op Suid-Afrikaanse besluitnemers uit te oefen wanneer nodig.
Die SAJWV by monde van sy Hoof Uitvoerende Beampte en Visepresident Bewaring neem deurlopend deel aan verskeie van die Departement Omgewingsake- en Toerisme se beleidmakende forums soos:
- Nasionale Norme en Standaarde vir die bestuur van olifant populasies
- Nasionale Norme en Standaarde vir jag in Suid-Afrika
- Threatened or Protected Species (TOPS)
- Damage Causing Animals (DCA)
- Alien and Invasive Species
Verskeie Takke het oor die afgelope paar jaar die inisiatief geneem om habitatte te beskerm en te hervestig, spesies se voortbestaan te verseker en publisiteit aan bewaring te verleen. In ’n strategiese stap om die SAJWV se bewaringsportefeulje uit te bou is dr Herman (Krappies) Els in Augustus 2008 aangestel as Bestuurder vir Bewaringskoördinering. ’n Bewaringsbeleid is reeds saamgestel aan die hand van die SAJWV se Bewaringshandves, en dit sal vanaf 2009 in alle erns geïmplementeer word nadat dit in November 2008 deur die SAJW se Kongres goedgekeur is.
(lees artikel 3 van 9 - reg om vuurwapens te besit)







