Print PDF

Neem beter en meer jagfotos

’n Kennis, wat ook ’n jagter is, vertel my die ander dag dat sy grasdakhuis afgebrand het, kompleet met al sy inhoud, insluitend sy gewere. Dit het my laat dink oor wat ek sal probeer red as  my huis afbrand en die slotsom was dat dit heel moontlik my familie se fotoalbums sal wees. Dink mooi daaroor – foto’s kan nooit weer vervang word nie – as jy jou foto’s verloor, is die enigste manier  hoe jy jou ‘lewensverhaal’ kan vertel, mondelinge oorlewering. Maar herinneringe en feite vervaag met  die tyd en almal weet dat een foto meer kan sê as ’n duisend woorde.  Met foto’s kan jy eendag jou  jagervarings bevestig terwyl jou kleinkinders grootoog aan jou lippe hang.

Ongelukkig laat heeltemal te veel jagters na om foto’s te neem terwyl baie weer net foto’s van dooie bokke neem. ’n Jag bestaan uit veel meer as net dit – jagters moet leer om ook die siel van die jag af te neem, nie net die resultaat nie. Meer hieroor later. Blaai ’n mens deur jagtydskrifte, is dit ooglopend dat baie Jagters nie weet hoe om goeie jagfoto’s te neem nie. Hier volg ’n paar wenke wat julle gerus in gedagte kan hou. Ek gaan van die veronderstelling uit dat mense hul kameras ken en weet hoe om al die funksies te gebruik. Vir algemene jagfoto’s is die tipe kamera (mik-en-druk, SLR film of digitaal) minder belangrik as die samestelling of komposisie van die foto. Die ‘digitale rewolusie’ maak dit vir amateur fotograwe moontlik om beter kwaliteit foto’s te neem, aangesien die meeste van die ‘dinkwerk’ deur die kamera gedoen word. Alhoewel kameras maar soos meeste dinge is – jy kry waarvoor jy betaal – kan goeie foto’s met ’n basiese 35mm film- of klein digitale kamera geneem word as jy jou deel doen voordat jy die knoppie druk.




Bo: Hoe om dit nie te doen nie: invalshoek te veel van bo; skaduwee van fotograaf is in die prentjie; jagter se hoed gooi ’n skaduwee oor sy oë; bok se bene lê oopgevlek; ingangswond en bloed op die onderlip is duidelik sigbaar; horings word nie vertoon nie; geweer lyk asof dit eintlik net in die pad is; bakkie se spore vertoon in die foto.

Bo: Pasop vir gras in die voorgrond – as die kamera op die onderwerp gefokus is, sal jy dit nie deur die lens sien nie. Behalwe vir die gras en skaduwees is dit ’n redelike mooi foto.

digitale kameras met ’n 4 megapixel vermoë is goed genoeg, aangesien dit goeie kwaliteit foto’s neem en maklik in ’n rug- of selfs hempsak gedra kan word. Bêre hom in ’n ‘ziploc’ sakkie om die sand en stof uit te hou. Anders as met filmkameras sien jy dadelik die resultaat en is die foto nie na wense nie, wis jy dit bloot uit en neem weer een totdat jy tevrede is. Onthou om altyd die foto’s teen die maksimum resolusie/ kwaliteit wat die kamera toelaat te neem – dit verseker dat jy ook ’n kwaliteit vergroting daarvan kan maak. Behalwe vir die kamera, is ’n klein driepoot met buigbare/ verstelbare bene onmisbaar want dit stel jou in staat om die kamera op sy eie en waterpas staan te maak. Dan kan jy met die tydvertragingsfunksie foto’s van jouself neem by jou prooi as jy alleen jag of nie jou gids of mede-jagter se vermoëns met ’n kamera vertrou nie. Behalwe vir die ooglopende gebruik, is ’n stuk toiletpapier ook handig – dis net die ding om ongewenste bloed van ’n bok af te vee. Beligting speel ’n baie belangrike rol
in die kwaliteit van ’n foto. In die vroeë oggend en laatmiddag is die lig ‘sagter’ as in die middel van die dag.

Die basiese reël met enige foto is om die onderwerp so te posisioneer dat die lig van agter die fotograaf val om sodoende dit wat jy wil afneem, behoorlik  te belig. Maak net seker dat die skaduwee van die fotograaf nie so val dat dit in die foto verskyn nie. Foto’s wat laatmiddag of vroegaand geneem word, het ’n groter kans om onderbelig te wees en hier is die gebruik van die flits soms ’n moet. Terloops, die flits kan ook helder oordag gebruik word om skaduwees (bv. die van ’n hoedrand oor die oë) te versag. Weereens kom die voordeel van ’n digitale kamera na vore – jy kan onmiddelik sien of die beligting reg is.

Foto’s wat onderbelig is, kan tot ’n sekere mate reggestel word, maar aan ’n oorbeligte foto is daar min te doen.Neem altyd die foto van jou bok in die veld, al is jy haastig om by die kamp te kom na ’n lang dag. Moet NIE dat die plaaseienaar of gids jou oortuig om foto’s by die slagplek te neem nie – daar is niks so onooglik op ’n foto soos die koelkamer se kragopwekker of ’n ou trekkerband wat in die agtergrond lê nie. Nog meer onooglik
is die jagter wat langs ’n dier staan wat aan sy agterpoot opgehys is. Moet ook nie dat jy aangejaag word met die fotonemery nie. Dit is jou jag en foto’s neem is deel van die ondervinding.

Die bok moet ordentlik geposisioneer word, maar voor ons daarby kom, onthou om die volgende stappe te volg. Moenie die bok se keel afsny of die binnegoed uithaal voordat jy die foto’s neem nie. ’n Bok wat oopgesny en met ’n bebloede keel op ’n foto verskyn, lyk nie goed nie en doen ook jagters se beeld skade aan. Maak seker dat alle bloed, stukkies long of been en ingewande wat buite die bok hang, verwyder word en dat sy lyf mooi skoongemaak word. Gebruik die stuk toiletpapier of jou sakdoek (sê maar vir die vrou jy het hom verloor) om bloed van die wond, vel, neus en bek af te vee. ’n Klam sakdoek of lap werk die beste om selfs bloed wat reeds gestol het te verwyder. Gewoonlik is die ingangswond skoner en kleiner as die uitgangswond en dus moet die bok so gedraai word dat dit van die ingangswond se kant afgeneem word.

Druk ook die bok se tong terug in sy bek of die oog terug in die oogkas. ’n Man se roer is natuurlik deel van die foto en dié kan gebruik word om die wond toe verbloem, maar pasop dat die geweer nie die prentjie oorheers nie. Verwyder alle blare, stokkies en oortollige sand of grond van die bok en jagter. Grond kan natuurlik ook gebruik word om die bloed mee te verbloem. Posisioneer nou die bok so dat sy pote nie uitgestrek lê nie. Om dit te doen, draai die dier op die sy wat die verste van die fotograaf af gaan wees, vou dan die verste voor en agterbene mooi netjies onder die dier in. Rol hom nou na die fotograaf se kant toe op sy maag en vou die naaste bene op soortlgelyke manier in. Vou die stert en kop na die voorkant (fotograaf se kant) toe. Die idee is dat die bok moet lyk asof hy lê soos wanneer hy rus of slaap. Met ’n bietjie woel en druk behoort die bok sonder ondersteuning reg te lê. Sit agter die bok, maar moet nie gebonde wees aan die tradisionele manier van jagfoto’s neem soos hierbo beskryf nie – pragtige foto’s kan geneem word deur op ander maniere te poseer. Verhoed dat die bok se bek te diep in die sand of gras druk of teen on-natuurlike hoeke gedraai word. Onthou dat die foto geneem word van die jagter en sy prooi en dat die fokus ten alle tye op hierdie toneel moet wees. Vermy dat skaduwees oor dele van die prentjie val en ook onnodige voorwerpe in die agtergrond soos ’n jag-voertuig, heining, ander mense of selfs ’n pad, ensovoorts. As jy die jaggeselsskap by die windpomp wil afneem goed en wel, maar maak dit dan die onderwerp van die foto. Respek vir die prooi is baie belangrik.

Dit was dalk in 1939 aanvaarbaar om boop jou eerste blouwildebees te sit, maar nie vandag nie. Die invalshoek van die foto is ook belangrik. Probeer so laag as moontlik kom en neem die foto met ’n klein hoek na bo, eerder as om regop te staan en die jagter wat op die grond sit af te neem. As toestande jou toelaat om plat op jou maag te lê, doen dit. Op hierdie manier kan jy vinnig sien of die agtergrond reg is. Let op vir bome en bosse in die agtergrond (selfs die wat ver is) wat lyk asof dit by die jagter of prooi se kop uitgroei. Jou bok se horings kan maklik teen ’n bos in die agtergrond of selfs die jagter se ‘camo’ klere verdwyn – probeer hulle dus silhoeëteer teen blou lug. Maak ook seker dat die horings so na as moontlik aan vertikaal is, anders vertoon jou droom 15-duim springbok soos ’n 10-duim een. Verskillende boksoorte moet op verskillende maniere gefotografeer word – rooihartebeeste, waarvan die horingpunte na agter lê, vertoon beter as hulle koppe skuins van die kant af afgeneem word. Pas jou foto aan by die tipe bok en wat die omgewing toelaat.

Moet nie die bok se horings vashou as jy dit kan verhoed nie, veral nie klein boksoorte s’n nie; en as jy nie anders kan nie, moet dan nie die horings aan die punte vashou nie. Klein boksoorte vertoon goed as hulle op gepaste miershope, rotse of stompe gesit word sodat die jagter effens verskuil word en sodoende nie die prentjie oorheers nie. Soms sit jagters ’n hele paar treë agter die bok sodat hulle kleiner lyk en die bok groter. Dis ’n ou truuk, maar moet reg gedoen word anders lyk die proporsie van die foto nie reg nie. Pas ook op dat nie nét die jagter se kop bo die bok se lyf uitsteek nie, ’n deel van sy lyf moet sigbaar wees anders lyk dit asof die jagter se kop uit die dier groei. ’n Fout wat gereeld gemaak word, is om te ver weg te staan van die onderwerp en dan die kamera se telefotofunksie (‘zoemlens’) te gebruik om die prentjie vol te maak. Deur dit te doen, verloor jy diepte van veld. Gebruik slegs die zoemfunksie om finale klein aanpassings te maak sodat die jagter en prooi mooi in die fotoveld pas. Los altyd ’n bietjie spasie aan die kante asook bo en onder – met sommige kameras (veral digitales) verloor jy klein stukkies van die buiterande van die
foto tydens die drukproses.

 


Die skrywer en sy jagmaat besig om middagete voor te berei. Neem sulke tonele ook af in stede van slegs dooie bokke.

Die einde van ’n suksesvolle jag. Probeer gerus sulke ongewone poserings – dit verskaf ’n interessante dimensie aan jou jagfoto’s.

Veel beter, fotograaf lê laag op die grond en gooi nie ’n skaduwee nie; jagter se hoed is verwyder; bok lê beter met bene ingevou; die geweer, alhoewel ’n bietjie oorheersend, maak die wond toe; horings vertoon mooi teen die blou lug, maar die bos links trek ’n bietjie aandag af; bakkie se spore is nie meer sigbaar nie; jagter se meer ernstige uitdrukking skep as ’n ‘uitbundige’ glimlag ’n beter indruk.

Artikel deur Francois van Emmenes manMagnum May 2007