| 08 December 2011
MEDIAVERKLARING DEUR DIE SUID-AFRIKAANSE JAGTERS EN WILDBEWARINGSVERENIGING
DATUM: 8 DESEMBER 2011
EMBARGO: GEEN
SA Jagters sê vuurwapeneienaars pleeg nie geweld teen vroue en kinders
Die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) het beswaar gemaak teen ‘n algemene stelling dat wapens in private besit in geweld en intimidasie teen vroue en kinders gebruik word. `Dit is ‘n onbillike veralgemening en blatante versinsel,’ het dr Herman Els, bestuurder van jag en bewaring by SAJWV gesê.
SA Jagters se reaksie volg op ‘n artikel wat op 7 Desember in Die Burger verskyn het wat lui dat dr Naeemah Abrahams van die Mediese Navorsingsraad glo versoek het dat die voorgestelde wysigings in die vuurwapenwet teengestaan behoort te word omdat dit tot meer geweld teen vroue en kinders sal lei. Dr Abrahams het deelgeneem aan ‘n bespreking oor 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders wat by die Saartjie Baartman-sentrum gehou is.
Els sê dat mense wat geneig is tot intimidasie en geweld teen vroue en kinders nie ‘n vuurwapen nodig het om sulke onverskoonbare dade te pleeg nie. `Só ‘n onregverdige en irrasionele stelling soos wat dr Abrahams na bewering gemaak het, dra geensins by om geweld in ons samelewing te bekamp nie.’ Hy het die MNR en ander owerhede versoek om eerder die onderliggende oorsake van geweld teen vroue en kinders in ons gemeenskap te ondersoek sodat ons kan verstaan waarmee ons te make het en dan daadwerklik kan optree.
Volgens die artikel in Die Burger, het dr Abrahams gesê die voorgestelde wysigings tot die vuurwapenwetgewing verlaag die ouderdomsperk vir vuurwapeneienaars en verhoog die aantal vurwapens wat een persoon mag besit.
`Dit is glad nie waar nie. Haar interpretasie van die voorgestelde wysigings tot die Wet op die Beheer van Vuurwapens is verkeerd. SAJWV sal dr Abrahams met graagte adviseer oor die korrekte interpretasie en implikasies van hierdie voorgestelde wysigings,’ het Els gesê.
SA Jagters het sowat 29 000 lede by 67 takke landwyd wat almal wettige vuurwapeneienaars is en wat wapens vir jag-, sportskiet- en versamelaarsdoeleindes benut. Die Vereniging bevorder die veilige en verantwoordelike gebruik van vuurwapens onder sy lede en die publiek in die algemeen. SAJWV is die grootste SAPD-geakkrediteerde jag- en sportskietvereniging in Suid-Afrika wat opleiding in vuurwapenhantering verskaf.
DIE EINDE







