| 21 September 2011
SA Jagters se Rhinos Alive-veldtog: Wesrandtak rig uitdaging
22 September 2011 is Internasionale Renosterdag - ’n dag wat deur die World Wildlife Fund (WWF) gemerk is om gewaarwording onder alle belanghebbendes en regdenkendes te skep dat lewendige renosters baie meer werd is as renosters wat slegs vir die gebruik van hulle horing dood gemaak word.
Om die klemplasing van hierdie dag verder te bevestig het SA Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) se Wesrandtak ’n bedrag van R11,000 aan die Onderstepoort Veterinêre Laboratorium (VGL) geskenk. Die fondse is bedoel om die VGL te help om DNS-versamelstelletjies aan te koop waarmee renostereienaars die DNS van alle renosters wat in die land gevang, geskuif of gewoon verdoof word kan versamel sodat dit op die RhODIS renoster DNS-databasis by die laboratorium geplaas kan word.
Die inisiatief van die Wesrandtak is in lyn met die grondbeginsels van SA Jagters se Rhinos Alive-veldtog wat reeds in April vanjaar tydens Huntex te Midrand afgeskop het. Die fokus van die Rhinos Alive-veldtog is om eerstens die nasionale handel in renosterhoring en daarna die internasionale handel in die produk te bewerkstellig, omdat dit gesien word as die enigste werkbare oplossing om die sinnelose doodmaak van renosters slegs vir hulle horing te bekamp.
Om dit egter verantwoordelik en verantwoordbaar te kan doen, moet ’n stelsel in plek geplaas word waardeur die oorsprong van alle renosters en renosterhoring wat in bergplekke bewaar word, onbetwisbaar bepaal kan word. Die enigste wyse om dit te kan doen is om te eis dat die verkoop van elke individuele renoster en of renosterhoring gepaard sal gaan met ’n verifieërbare DNS-sertifikaat wat die oorsprong van die horing (lokaliteit van dier), die eienaar en van die koper sal aandui. Die sleutel van verifieërbaarheid is wetenskaplik bewysbaar opgesluit in die DNS-spoor wat op hierdie wyse bewerkstellig word (die grooste verkopers van renosters is SANParke en Ezemvelo KZN Wildlife).
Die VGL is geruime tyd reeds reg deur die land besig met opleiding van veeartse, relevante staatsamptenare en natuurbewaringspersoneel om DNS-monsters te versamel wanneer hulle met renosters werk. Die DNS-stelletjies is spesiaal vir hierdie doel ontwerp en dit is noodsaaklik dat die DNS-materiaal korrek geneem word. Die RhODIS renoster DNS-databasis is belangrik vir drie redes, te wete;
- om as bewyslas te dien in kriminele sake wat oor die stroop van renosters handel;
- om die inteling van die diere te probeer voorkom deur realisties teeldiere te selekteer (die genepoel is maar klein omdat die huidige witrenosterbevolking in Suid-Afrika van minder as 100 diere afkomstig is), en;
- om die handel met renosters en renosterhoring te verifieër.
Die Wesrandtak daag alle ander takke van SA Jagters uit om ten minste R1,500 in die Rhinos Alive-veldtog se fonds by die nasionale kantoor van die vereniging te stort sodat die vereniging voor die einde van die jaar R100,000 aan die VGL kan oorbetaal om DNS-versamelstelletjies beskikbaar te stel waarmee renoster se DNS versamel en op die databasis aangeteken kan word. Dis die vinnigste manier om ’n deeglike databasis daar te stel sodat die handel met die diere en hulle horings sinvol gewettig kan word. SA Jagters het 67 takke regoor die land versprei.
SA Jagters is ‘n organisasie met vrywillige lidmaatskap sonder winsoogmerk. ’n Bedrag van R100,000 sal gelykstaande wees aan die bedrag wat SA Brouerye vroeër vanjaar aan die VGL vir dieselfde doel geskenk het sal vir die vereniging van baie groot waarde wees. ’n Bydrae van hierdie omvang aan die VGL sal weer eens bevestig dat jagters as individue, die werklike bewaarders in die samelewing is.
Die Wesrandtak se uitdaging is dus voor die deur van alle takke van SAJWV en benodig beantwoording om betekenis aan die internasionale renosterdag te verleen.
Foto bo: BJ Jonker, voorsitter van Wesrandtak oorhandig die tjek van R11,000 aan Dr Cindy Harper. Dr Harper is die Direkteur van die Onderstepoort Veterinêre Genetiese Laboratorium by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veterinêre Wetenskappe te Onderstepoort.







