COMMUNIQUE AAN TAKKE EN LEDE NA AFLOOP VAN DIE UK VERGADERING GEHOU OP 18 NOVEMBER 2010

1. 2010 Kongres

Die Kongres van 2010 is afgehandel en het oor die algemeen goed verloop. Daar is afskeid geneem van Prof. Pieter Potgieter wie as President uitgetree het. Fred Camphor is as nuwe President van die Vereniging verkies. Die samestelling van die UK is as volg verander: Jag- en Skietsake is verdeel in twee ampte, naamlik Jagsake en Skietsake. Hierdie verandering is aangebring om groter fokus op jagsake tot voordeel van die lede te bewerkstellig.

Die verkiesing van Dr Gerhard Verdoorn as Adjunk President het die amp van Bewaring vakant gelaat en tydens die UK vergadering is BJ Jonker, vorige Voorsitter van Wes-Rand tak as VP: Bewaring gekoöpteer.

Hercules Louw, wie in die amp van VP: Jag- en Skietsake tydens die Kongres verkies is, het die verskuiwing na die amp VP: Skietsake  aanvaar.  Omdat die amp - VP: Jagsake eers deur die Kongres goedgekeur moes word, is niemand op die Kongres daartoe verkies nie en sou die amp vakant wees tot en met die Kongres van 2011.  Derhalwe het die UK vir George Nell as VP: Jagsake gekoöpteer.

Omdat 2011 ‘n besonder uitdagende jaar vir die Vereniging gaan wees, het die UK vir Piet van Hoven as Addisionele lid op die UK gekoöpteer.  Die Vereniging kan baie baat by Piet se rol en ervaring in die sakewêreld, waar hy ook as President van die Afrikaanse Handelsinstituut gedien het. Piet is sedert 1986 lid van SAJWV.

Die volledige UK vir 2010/2011 is as volg:
•    President – Fred Camphor
•    Adjunk President – Gerhard Verdoorn
•    Vise-President Opleiding – Wilhelm Greef
•    Vise-President Lede-, Tak- en Streeksake – Org Hamman
•    Vise -President Bewaring – BJ Jonker
•    Vise-President Skietsake – Hecules Louw
•    Vise-President Jagsake – George Nell
•    Vise-President Kommunikasie – Johann Ungerer
•    Addisionele Lid – Piet van Hoven

2. Meesterjagter

Daar is geen Meesterjagtererkenning – 2010 tydens die Kongres gemaak nie.  Dit was bloot as gevolg van die beperkte tyd tussen die datum waarop die nominasies ontvang is en die datum waarop die Toekenningskomitee ‘n besluit moes neem. Vir 2011 sal die sperdatum vir die indien van nominasies vroegtydig aangekondig word en sal die nominasies wat reeds ingedien is heroorweeg word.

3. 2011 Strategiese Beplanning

Die UK beplan om vroeg in Januarie te vergader om die uitdagings van die nuwe jaar te bespreek en prioriteite vas te stel.  Takvoorsitters sal tydens die NTVF van Februarie 2011 op hoogte gebring word.

4. Bevoegdheidsertifikate

Die nasionale kantoor word tans oorval met navrae van bekommerde lede wie se Bevoegdheidsertifikate reeds verval het of spoedig sal verval, terwyl daar tans geen prosedure bestaan by die SAPD vir her-aansoeke nie.  Lede wat hierdie probleem ondervind word versoek om vir Hennie de Jager by die nasionale kantoor te skakel met hulle besonderhede. Die Vereniging is in noue kontak met die SAPD, en die verwagting is dat hierdie kwessie vroeg in Desember 2010 opgelos gaan word.