Print PDF

Ontstaan

Op ‘n Saterdagoggend, 1 Oktober 1949, word ‘n jagtersvereniging in Pretoria se dieretuin in die teenwoordigheid van 50 belangstellendes  gestig.  Op daardie stadium word wild in Suid- Afrika in groot getalle en feitlik onbeheersd geskiet.  ‘n Jagtersvereniging kon ‘n groot rol speel om ‘n verandering teweeg te bring en bewaring word deel van die Transvaalse Jagtersvereniging se aktiwiteite.   Die owerheid steun die ontwikkeling en die Adminstrateur van Transvaal word die beskermheer met die Provinsiale Sekretaris, die Goewerneur-Generaal van Mosambiek, die Minister van Lande, die Adjunk Kommisaris van Polisie,  die “Konservator” van Fauna en Flora en die Hoof van die Nasionale Dieretuin as ere-lede.

Die Vereniging bekom jaggeleenthede in Betsjoeanaland [nou Botswana], Angola en Mosambiek vir lede en in 1957 word besluit om die naam te verander na die Suid- Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging .  Die ledetal het gegroei na 286 met lede in Transvaal, Oranje Vrystaat, Natal, Kaap-provinsie, Suid Wes Afrika en Rhodesië.

Die Vereniging maak skenkings aan die Nasionale Parkeraad vir “Operation Rhino”, die Hongaarse noodlenigingsfonds, die Pietersburg Munisipaliteit se wildpark en die leerstoel in Natuurlewebestuur by die Universiteit van Pretoria word met ‘n donasie ondersteun.

Die ledetal groei stelselmatig.  Teen die 60-jarige bestaan van SAJWV het die Vereniging meer as  30 000 geregistreerde lede wat in meer as 69 takke georganiseer is.


Doel en missie

Die Vereniging het ten doel om:

  • Jagters- en sportskiet belange in Suid Afrika te bevorder en uitnemende diens aan lede te lewer
  • Verantwoordelike jag as ‘n noodsaaklike deel van volhoubare benutting en bewaring te bevorder en uit te bou
  • ‘n Positiewe beeld van die jagter en sportskut te vestig en uit te bou
  • Bewaring te inisieer en te bevorder en so by te dra tot ons natuurlewe-erfenis en liefde vir die natuur te bevorder
  • Opleiding te verskaf in die kultuur en etiek van jag, jagvaardighede en behendigheid in die gebruik van jagtoerusting en so die jag- en skietvaardighede van lede te verbeter
  • Verantwoordelike vuurwapeneienaarskap te ontwikkel en te bevorder
  • Met die owerheid te skakel en deel te neem aan raadpleging- en besluitnemingsprosesse om sodoende die belange van lede te bevorder


Gedragskode

Met diepe erkentlikheid teenoor die Opperwese, Skepper van alles wat lewe en met innige waardering vir die heelal in die volledige totaliteit daarvan, verbind ek my as jagter en as lid van die Suid Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging om:

  • Alle geskrewe en ongeskrewe jagwette en voorskrkrifte te eerbiedig en niks uit die natuur te neem waarop ek nie geregtig is nie
  • Met deernis te jag en net uit die natuur te benut wat ek kan gebruik
  • Fauna en flora, grond en water en die lewe wat dit versinnebeeld aktief te bewaar en met respek en liefde te bejeen
  • My vuurwapen met kundigheid en oordeel te benut en met eerbied vir die lewe aan te wend en om
  • Nederig te jag, my medejagter te respekteer en jag te bevorder en uit te bou.


Werksaamhede

SAJWV se aktiwiteite bestaan uit:

  • Administrasie van lede se lidmaatskapsake, rekeningkundige - en finansiële bestuur van die Vereniging en koördinering van tak- en streeksaktiwiteite
  • Formulering van opleiding en opleiding van die Toegewydejagter en -sportskut soos deur die wapenwetgewing vereis word
  • Hantering van die wetlike bepalings soos vereis vir die handhawing van Toegewydejagter- en  -sportskutstatus
  • Inisiëring en bevordering van bewaring
  • Bevordering van boogskiet onder die jeug deur NASP
  • Bevordering en organisering van skietkompetisies en die formulering van skietstandaarde en tabelle
  • Skakeling met die owerheid ten opsigte van natuurbewaring en met die SAPD tov die toepassing van die wapenwetgewing
  • Bevordering van jagaktiwiteite
  • Aanbieding van die jaarlikse HuntEx expo