Die SAJWV neem leiding in die bewaring van sukkulente en ander unieke plante in die droë noordweste.


In Suid-Afrika het die woord stroop of poaching, sinoniem geword met die slagting van renosters en die onwettige handel in renosterhoring. Weens ingryping deur bewaringsbewustes en die regering het die stropery mooi afgeneem (van 1 215 in 2014 tot 594 renosters in 2019). Dis goeie nuus, maar renosters is nie al wat gestroop word nie. Die onwettige handel in skaars en bedreigde plante en reptiele het geweldig toegeneem oor die laaste dekade. Dis veral ’n groot probleem as dit kom by die unieke en spesiaal aangepaste plante en diere van die semi-woestyngebiede soos die Namakwaland en die Richtersveld.

 


Van die besonderse plante wat in die Sukkulente-Karoo voorkom. Foto’s: Karel du Toit.

Tussen April en Desember 2019 was daar 29 hofsake in Namakwaland alleen, waar 48 mense gearresteer is en boetes van meer as R4 miljoen opgelê is vir die diefstal en smokkel van skaars en bedreigde plante en reptiele. Die polisie en CapeNature het vroeër die jaar twee Suid-Koreane vasgetrek vir die onwettige versameling van  meer as 60 000 Conophytum-plante uit die area. Hul is elk met R2.5 miljoen beboet en het ’n opgeskorte vonnis van ses jaar tronkstraf gekry.


Mobilisering op nasionale en internasionale vlak asook die rolprent, STROOP – Journey into the rhino horn war het grootliks gehelp om renosterstropery te bekamp. Ongelukkig word dieselfde fokus nie geplaas op die stropery van sukkulente nie, alhoewel dié onwettige bedryf selfs groter geskat word as die stroop van renosters. Beide die publiek en die regering staan meer apaties teenoor die plantstropery.


Die SAJWV was en is steeds op verskeie maniere betrokke by bewaring van renosters, maar het nou ook besluit om meer  betrokke te raak by die bewaring van skaars en bedreigde plante en meer spesifiek ook by die stryd teen onwettige handel.

 


Gekonfiskeerde plante en ’n voorbeeld van ’n vetplantmark in Bangkok waar verskeie van Suid-Afrika se unieke plante verkoop word.


Die Vereniging se Namakwa-tak op Springbok in die Noord-Kaap, is in November 2018 gestig en het tans 124 lede. Hoewel hulle die jongste tak van die Vereniging is, het die klomp Namakwalanders onder die bekwame bestuur van Carel Oberholtzer en sy bestuurspan, bewaringskringe aan die gons met hul positiewe impak in hul omgewing. Karel du Toit, die bewaringskoördineerder, ’n man wat glad nie jag nie, is aan die stuur van die bewaringsinisiatiewe van die tak. As gevolg van sy werk as bevelvoerder van die Veediefstaleenheid op Springbok is hy intens bewus van die aard en omvang van stropery en smokkelhandel in plante en diere in dié omgewing. Hy het die Namakwa-tak oorreed om betrokke te raak en na beraadslaging met my, is daar besluit dat die tak en die Vereniging ’n rol het om te speel in hierdie stryd teen die plantstropery.


Hoewel Suid-Afrika slegs 2% van die wêreld se oppervlak beslaan, het ons 46% van die wêreld se vetplante, waarvan die meeste in die Sukkulente-Karoo- en Nama-Karoogebiede voorkom. Die Sukkulente-Karoo het byvoorbeeld die hoogste plantdiversiteit van enige van die woestynbiome en is ’n internasionaal erkende sentrum van hoë biodiversiteit.


Ongeveer 40% van die plante in dié streek is endemies, wat beteken hulle kom nêrens anders in die wêreld voor as net hier nie. Daar is egter nog baie min werk gedoen op die diversiteit van plante en diere in die gebied en daar is onlangs nuwe insek-, plant- en spinnekopspesies ontdek.

 


Van die vetplante in die handel groei uiters stadig. Sommiges minder as ’n sentimeter per jaar. Versamelaars verkies ouer plante met groter vlesige stamme wat honderde jare oud is en uit die natuur kom. Dit beperk die vermoë van Suid-Afrika om die plante op groot skaal te kweek vir uitvoere, om aan die vraag te voorsien.

Onoordeelkundige versameling uit die natuur kan dus veral hier lei tot uitsterwing van uniek aangepaste spesies wat ons nog nie eens mooi verstaan nie.


As deel van die inisiatief het die Namakwa-tak reeds meer as R100 000 beskikbaar gestel om drie van die parke in die gebied te ondersteun met noodsaaklike bewaringstoerusting. Daar is ook besluit om gedurende Maart 2020 ’n werkswinkel aan te bied by Sendelingsdrif in die Richtersveld Nasionale Park, waarheen bewaringsdepartemente van die Wes- en Noord-Kaap, SANParke, SANBI, die Groen Skerpioene, polisielede van verskeie veediefstaleenhede en ander belanghebbendes uitgenooi is. Die doel was om die prioriteite te identifiseer waar SAJWV betrokke kan raak saam met ander rolspelers, om stropery die hok te slaan en bewaring te bevorder.  

 

Al die afgevaardigdes wat die bespreking bygewoon het oor hoe SA Jagters betrokke kan raak by die bewaring van die sukkulente.

Tydens die werkswinkel het verskeie rolspelers aanbiedinge gedoen om die aard en omvang van bewaring en stropery in die gebied uit te lig. Laaiqah Jabar van die Groen Skerpioene het verduidelik hoe groot die internasionale handel in sukkulente plante is en dat astromiese bedrae geld hande wissel. Die rol van die internet in die bevordering van onwettige handel is ook uitgelig as ’n nuwe terrein waaraan aandag gegee moet word. Beperkte hulpbronne in bestuur en regulering, asook kundigheid om beskermde plante van die gebied te identifiseer, is as wesenlike probleme geïdentifiseer vir beide bewaringsorganisasies en die polisie. Dit was ook baie duidelik dat die mense van die omgewing nie noodwendig goed ingelig is oor die uniekheid, waarde en die faktore wat die unieke biodiversiteit bedreig nie.

Rolspelers het tydens die besprekings voortgebou op die belangrikste fokusareas wat in ’n nasionale werkswinkel in Februarie in Kirstenbosch geïdentifiseer is en spesifieke areas uitgelig waar die Vereniging op ’n praktiese wyse betrokke kan raak. Van die inisiatiewe wat geïdentifiseer is, sluit die volgende in:

  • bewusmaking van die omvang en impak van stropery van plante en reptiele om groter betrokkenheid te mobiliseer;
  • bewusmakingsveldtogte binne die gemeenskap sodat hul eienaarskap kan neem in die beskerming van hul natuurerfenis;
  • ontwikkeling van inligtingstukke wat grondeienaars, gastehuiseienaars, toeroperateurs, myne en lede van die publiek kan help om verdagte optrede te kan identifiseer en wetlike optrede te bespoedig;
  • befondsing en ondersteuning van spesifieke bewaringsinisiatiewe;
  • opleiding en bemagtiging van rolspelers, ingesluit regeringsamptenare (bewaring; polisie; regsprofessie) om die aard en omvang van die situasie beter te verstaan en om unieke spesies te kan identifiseer;
  • die befondsing van ’n streeksgebonde bewaringsmisdaadhulplyn.

Een van die inisiatiewe waarmee die Namakwa-tak reeds begin het, is die befondsing van ’n gebou in die kwekery in die Richtersveld Nasionale Park waar gekonfiskeerde bedreigde plante gehuisves sal word saam met ander voorbeelde van die unieke en skaars plantspesies in die gebied. Dit sal as een van die genebanke dien vir die plantspesies saam met ander kwekerye, met volledige habitat-inligting sodat plante gekweek kan word vir moontlike latere hervestiging.

 

Carel Oberholtzer oorhandig die gedenkplaat vir die gebou wat deur die Vereniging befonds word, aan Pieter Van Wyk en sy span van die SANParke-kwekery op Sendelingsdrif.

 

Die kwekery waar SA Jagters die oprigting van ’n gebou befonds waar gekonfiskeerde plante gehou kan word saam met ’n versameling unieke plante wat as genebank kan dien vir die plante van die area. Die konstruksie van die gebou is van so ’n aard dat potte teen die klipmure geplaas kan word wat in verskillende windrigtings front sodat die mikroklimaat van die plante se natuurlike habitat nageboots kan word. Die gebou is nog nie voltooi nie maar sal binnekort amptelik geopen word.


Pieter van Wyk van SANParke kon nie sy opgewondenheid oor die projek beteuel nie. Hy was oorbluf met die hulp wat hul reeds van Namakwa-tak ontvang het asook die vooruitsigte vir toekomstige samewerking. Positiewe terugvoer het ook ingestroom uit verskeie oorde. Dit het gewissel van, “Ons was nie bewus dat julle sulke bewaringswerk doen nie,” tot: “Dis ongelooflik om jagters te sien wat soveel omgee vir die natuur dat hul in hul vrye tyd hierdie bewaringswerk doen”. Verskeie lede van die publiek asook polisiemanne wou ook weet hoe hulle kan aansluit by die SAJWV.   

 

Lizanne Nel, bestuurder bewaring by SA Jagters het gese sy  sien uit daarna om saam met die Namakwalanders en die ander rolspelers skouer aan die wiel te sit om die bewaringswerk van die Vereniging uit te bou. "Bewaring was nog altyd deel van wie ons as die SAJWV is, reeds vanaf ons stigting in 1949. Ek haal my hoed af vir die voorbeeld wat hierdie jong tak stel, nie net vir bewaring nie, maar ook vir die uitbou van die positiewe reputasie van jagters."

 

Waarna moet jy oplet:

  • toeriste met voertuie wat nie plaaslike registrasienommers het nie en wat stadig in die veld en op agterpaaie ry en in die veld stop;
  • toeriste wat baie vrae vra oor spesifieke lokaliteite van sekere skaars plante;
  • hotelkamers of gastekamers waar daar meer as die normale hoeveelheid vars grond in die stort of op die vloer en asblik is soos wat hul ontwortelde plante skoonmaak;
  • oormatige gebruik van toiletpapier wat gebruik word om plante toe te draai; en
  • fisiese teenwoordigheid van plante wat nie in houers is met die naam van die kwekery daarop nie.

Wat moet jy doen:

  • lig besoekers in dat hul nie plante uit die veld mag versamel sonder ’n permit nie;
  • indien verdagte optrede opgemerk word, moet nie die persone konfronteer nie;
  • kry inligting soos die motor se registrasie en handelsmerk, lokaliteit, beskrywing van die persone en hul aktiwiteite – neem foto’s indien moontlik;
  • skakel die naaste polisiestasie/veediefstaleenheid van die polisie.