Taksake

Inleiding
Die Suid Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) is ’n vereniging vir lede bedryf deur lede en die takke en hulle aktiwiteite is die hartklop van die Vereniging. Die entoesiasme en sukses waarmee die takke van die SAJWV bedryf word is uniek veral as in ag geneem word dat elkeen betrokke op takvlak dit doen vir die liefde van die saak en verwag of ontvang geen betaling vir hulle werk nie.

Die takke van die Vereniging is dié uiters belangrike platvorm vir praktiese dienslewering aan lede op plaaslike vlak. Vir die rede is die stigting van nuwe takke en die ontwikkeling van bestaande takke landwyd van strategiese belang vir die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging. Daar kan met reg deur lede gevra word, wat word gedoen om te verseker dat alle takke funksioneel bedryf word, en dat die nodige dienslewering wel plaasvind?

Een van die belangrike jaarlikse geleenthede by die takke van SA Jagters is die Algemene Jaarvergaderings (AJV). ‘n Belangrike item op die agenda is die verkiesing van nuwe lede op die takbestuur waar nodig en die sukses van die proses word onder andere bepaal deur die hoeveelheid taklede wat daaraan deelneem.

Die vindingryke oplossings wat takke landwyd vind om te verseker dat hul diens lewer aan hulle lede is verstommend. Vrystaat Sandveld by Soutpan is een van die plattelandse takke wat primêr ’n boeregemeenskap bedien. By hierdie tak is ’n skietdag meer as net ’n paar manne wat saam kom op ‘n skietbaan. Hele families word betrek en na die skiet word die braaivleisvure aangesteek en ’n kort ledevergadering word gehou waar die lede ingelig word oor die jongste verwikkelinge binne die tak, die SAJWV ens . ’n Vergadering by ’n skietdag, sal die meeste stedelike takke vra? Om die vraag te verstaan moet mens besef dat die meeste stedelike takke hul skietdag op ’n Saterdag en ’n ledevergadering op ’n weeksaand het. Vir boere wat dikwels ver moet ry na hul takaktiwiteite op grondpaaie en met die veiligheidsituasie op plase is dit nie altyd prakties om in die aand weg te wees van die plaas en hul families nie. Die Vrystaat Sandveld tak en ander plattelandse takke het dus ’n oplossing gevind vir hul unieke probleem!

Ons jeug is die toekoms, koester hulle, in die nabye toekoms moet hulle by ons oorneem, op meer as een terrein in ’n wêreld met ongelooflike uitdagings! Vir ons as jagters en natuurliefhebbers is dit veral belangrik dat vandag se jongmense toegerus word om in die toekoms by ons oor te neem op die gebiede van bewaring, jag, vuurwapens en waardering vir die buiteluglewe – in geen spesifieke volgorde nie.

In die vroeë jagkulture soos die Eskimo’s, San (Boesmans), Amerikaanse Indiane en ons eie Boere het die senior jagter ‘n baie prominente rol gespeel en is hulle met die grootste respek en eerbied behandel. Want, al was so ‘n jagter nie meer só aktief nie, was hy ‘n ryk bron van kennis en ervaring. Dit is dikwels in die vorm van jagstories uit sy verlede, rondom ‘n kampvuur, veral aan die jonger geslag jagters oorgedra. In daardie kulture was die senior jagter dus ‘n sterk leiersfiguur en as gevolg daarvan, ‘n uiters belangrike komponent om die toekoms van jag en die suksesvolle toetrede van jonger jagters, tot jag te verseker.

Die ou verwysing na die “boer en sy roer” het raakvlakke met die hedendaagse jagter en sy geweer. Die wyse waarop ons voorouers hul bestaan gemaak het, het veroorsaak dat hulle gewere ’n “bykomstigheid of gereedskapstuk” was wat nooit ver van hul hand was nie. As gevolg van hul vaardigheid met hul gewere, het die Boere gedurende die twee Vryheidsoorloë ’n reputasie opgebou as uitstekende skuts, wat internasionaal erken is, veral deur die Engelse soldate wat die twee oorloë oorleef het! Vandag se jagter leef in totaal ’n ander wêreld en moet deurlopend hard werk aan sy skietvaardighede, om goed genoeg te kan skiet wanneer hy die jagveld betreë. Om genoeg skietoefening te kry moet die jagter gereeld op ’n skietbaan kom. Ons huidige omstandighede verskil so drasties van ons voorouers dat ons behalwe vir skote in die jagveld, feitlik sonder uitsondering op ’n skietbaan moet oefen.

Gedurende ’n takbesoek in Januarie 2007 deur die skrywer aan die Mopani tak op Phalaborwa het die nuwe voorsitter, Pierre Terblanche sy kommer oor die toekoms van die tak uitgespreek. Takaktiwiteite is baie swak bygewoon ten spyte van bestuur se beste pogings om lede betrokke te kry en die bestuurslede het begin moed verloor. Die suksesvolle bedryf van ’n tak van die SAJWV, met gelukkige lede, verg baie toewyding, entoesiasme en harde werk van takbestuur. Swak bywoning van takaktiwiteite deur lede is die belangrikste aanduiding dat ’n tak nie “gesond” is nie.

Ten spyte daarvan dat die meeste takke beskik oor genoeg opgeleide en ervare Baanoffisiere, ontwikkel baie takke op een of ander stadium die probleem van te min beskikbare Baanoffisiere en –beamptes (persone bereid om die werk te doen). Die volgende belangrike beginsels moet in ag geneem word om die probleem aan te spreek indien dit voorkom: