SAJWV Gallery Sporting Rifle skietkompetisie 2018

Die eerste SA Jagters Gallery Sporting Rifle skietkompetisie is op 13 Oktober 2018 aangebied deur die Riemland tak op die Riemland skietbaan ongeveer 25 km van Bethlehem op die R26 na Reitz.

Vrydag was daar geleentheid vir skuts om op die Riemland skietbaan in te skiet in goed georganiseerde aflossings onder toesig van baanoffisiere. Daar was inskietteikens en die diere teikens waarop die kompetisie geskiet word voorsien op 100,200 en 300m afstande en die skuts kon na hartelus inskiet en oefen.

Saterdagoggend was dit vroeg duidelik dat die weer ‘n potensiele probleem inhou aangesien daar reën voorspel word. Reeds tydens die inskietsessie was dit bewolk, winderig en koud. Tydens die verwelkoming- en inligtingsessie het dit begin reën en die eerste aflossing se skuts wat op die skietbaan begin aantreë het, moes terugkeer klubhuis toe. Teen 10h00 het die organiseerders begin bekommerd raak oor die teikens wat op die baan in plek was, indien die teikens só nat sou word dat die papier disintegreer, sou dit die einde van die dag beteken. Teen 10h30 het Basie Bergh, die hoofbaanoffisier die skuts nader geroep en die eerste aflossing het aangetreë in ligte reën – die temperatuur was 11.5 grade Celsius.

Die Riemland skietbaan het ‘n pragtige klubhuis en die skuts en ander gaste het regdeur die dag heerlik gekuier en wanneer die skuts van die skietbaan af gekom het, was hulle nat en koud en dan was die skuiling van die klubhuis en warm koffie baie welkom. Die skietbaan het ‘n unieke stelsel vir die wisseling van teikens. Daar is klein, plat waentjies wat elkeen vyf teikenrame op het en hulle is gedurende die dag in twee groepe van vier waentjies agter een bakkie en vyf waentjies agter ‘n ander bakkie per aflos, op die skietbaan getrek vir ‘n totaal van 45 teikens per aflos. Die tak het 27 van die ougat waentjies vir ‘n totaal van 135 teikens en terwyl een stel waentjies op een afstand verwyder word waar daar klaar geskiet is, word ‘n tweede stel waentjies met nuwe teikens op die volgende afstand in posisie geplaas en die derde stel waentjies se teikens word afgehaal by die tellinghouers agter by die klubhuis en die tellings geneem. Die skuts het deurentyd op die 300m skietpunt gebly en na elke skietoefening net teruggestaan terwyl die teikens gewissel word, hierdie wisseling het elke keer net ‘n paar minute geneem. Die twee aflossings met ‘n totaal van 87 skuts het vinnig die skietoefeninge gedoen en teen ongeveer 12h00 was die kompetisie afgehandel. Gelukkig was daar saam met die nat en koue weer nie veel wind nie.       

Baie geluk en baie dankie Kobus Maree (Riemland voorsitter) en die span wat hom bygestaan het van die Riemland tak, vir hulle besondere gasvryheid, pragtige skietbaan, vriendelike administratiewe personeel en die afsluiting met ‘n heerlike ete en prysuitdeling – dit was besonders! Die baanoffisiere onder leiding van hoofbaanoffisier, Basie Berg (Vise President: Jagsake) het verseker dat alles glad verloop op die skietbaan in terme van dissipline en veiligheid.  
32 van die 87 skuts het gekwalifiseer vir provinsiale/distrik kleure en die aansoek vir die toekenning van hierdie kleure word tans deur Inyathipark gedoen en kwalifiseerders sal op hoogte gehou word van die proses.

Baie geluk aan die wenners van die volgende klasse in die Gallery Sporting Rifle:

Ope klas: Herman Nieuwoudt (junior) – Bloemfontein tak
Dames klas: Anna-Marie van Tonder – Pretoria Oos tak
Junior Klas: Herman Nieuwoudt – Bloemfontein tak

Spesiale vermelding! Baie geluk aan Herman Nieuwoudt (junior) wat die dag (ope klas) gewen het met die mooi telling van 286/300!

Vir volledige resultate sien onderstaande dokumente.


Ope klas: v.l.n.r. PL van Tonder (2 de), HP Nieuwoudt (1 ste), PG Bekker 3 de) en VP:Skietsake: André van Heerden doen die oorhandiging.


Dames: v.l.n.r. Y Aggenbach (2 de), AG Van Tonder (1 ste), MA Baker (3 de), en VP:Skietsake: André van Heerden doen die oorhandiging


Juniors: VP:Skietsake: HP Nieuwoudt (1 ste), RH De Kock (2 de), C Van Zyl 3 de) en VP:Skietsake: André van Heerden doen die oorhandiging


Die pragtige Riemland skietbaan – die dag was nat en koud!

Filename Size Date
A Microsoft Excel file 1-GSR proewe Ope klas ranglys 13.93 KB 2018-10-23
A Microsoft Excel file 2-GSR proewe ranglys vir dames 24.63 KB 2018-10-23
A Microsoft Excel file 3-GSR proewe ranglys vir juniors 9.48 KB 2018-10-23
A Microsoft Excel file 4-GSR proewe ranglys vir streke 22.83 KB 2018-10-23

  • Last modified on Tuesday, 23 October 2018 09:51
  • font size
Andre van der Merwe

André van der Merwe is die Bestuurder: Tak-  en Skietsake van die SAJWV

André is ‘n entoesiastiese jagter en sportskut wat gereeld deelneem aan die SAJWV se sportskietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak.

Vir navrae oor Tak-en Skietsake en artikels waarvan hy die outeur is op die SAJWV webwerf, kan aan hom geskryf word by andrevdm@sahunt.co.za 

Head Office - Hoofkantoor

Inyathi Park
Plot 3, Mountain Drive 7, Derdepoort, South Africa
    South Africa: 0861 SAHUNT (724 868)
    International: +27 (0) 12 808-9300
 admin@sahunt.co.za