Die jongste wysigings in die Covid-19 beperkings ten opsigte van die biodiversiteitsektor wat die Minister van Omgewing, Bosbou en Visserye, Barbara Creecy, op 28 Julie 2020 gepubliseer het, hou verreikende negatiewe gevolge in vir landelike gemeenskappe wat afhanklik is van die wildlewe-ekonomie vir oorlewing.


Wildvermindering en verbruikersjag (die wettige verkryging van wildsvleis vir voedselsekerheid) was toelaatbaar onder vlak drie inperkingsregulasies wat op 5 Junie 2020 gepubliseer is. Beide hierdie aktiwiteite dra grootliks by tot wildlewebestuur en voedselverskaffing wat as noodsaaklike dienste geklassifiseer is. Die vervoer van wildsvleis – net soos ander vleisprodukte – was toelaatbaar oor metro-, distrik- en provinsiale grense met die nodige permitte ingevolge die regulasies.


In die gewysigde regulasies wat op 28 Julie gepubliseer is, is verbruikersjag weggelaat sonder enige voorafgesprekke of konsultasie met rolspelers in die bedryf. Die verskaffing van verblyf vir enige tipe jag is ook verbied. Die gewysigde regulasies maak slegs voorsiening vir jag in dieselfde provinsie en met nakoming van die aandklokreël (04:00 tot 21:00).


Dít beteken dat ʼn jagter wat vrylopende wild wil jag vir vleis, voor 04:00 soggens na sy jagbestemming moet reis, in die middel van die dag moet jag, die karkas tyd gee om af te koel, die vleis verwerk en terugkeer huis toe om voor 21:00 op dieselfde dag tuis te wees. Dit is bykans onmoontlik!


Geen redes is verskaf vir die nuwe beperkings nie geen ʼn verduideliking is gegee vir die feit dat die uitdun van wild, wat baie meer mense verg, toelaatbaar is nie. Verbruikersjag behels baie minder mense onder omstandighede met ʼn baie lae risiko.


Hierdie wysigings belemmer nie net die regte van benuttingsjagters nie, maar het verreikende gevolge vir die bewaring van wildlewe en hul habitat. Die private sektor en gemeenskappe is gesamentlik betrokke by die bestuur van uitgebreide wildlewegebiede wat meer as twee keer groter is as die beskermde gebiede onder staatsbeheer. Die meeste wildlewegebiede maak staat op verantwoordelike jag om wild te bestuur en wildgetalle te beheer. Dit verskaf ook ʼn noodsaaklike inkomste as deel van ʼn lewensvatbare onderneming. Die private wildlewebedryf beskerm verreweg die grootste deel van die land se wildbevolkings, veral skaarser spesies. Sonder die ekonomiese bydrae uit jagaktiwiteite, word die toekoms van hierdie bedryf ernstig benadeel. Sonder jag, sal grondeienaars gedwing word om hulle wildplase te omskep in ander bedrywe om te kan oorleef. Private wildplase se enorme bydrae tot biodiversiteitsbewaring gaan dus verlore en hou ʼn groot bedreiging in vir die bewaringsukses waarvoor Suid-Afrika internasionale erkenning geniet.


Die beperking tot eendag-jag sal juis die armste en mees kwesbare gemeenskappe in landelike gebiede die ergste raak. Die Khomani San in die Noord-Kaap is een só gemeenskap wat heeltemal afhanklik is van jag vir hulle inkomste. Vier jagters wat ses nagte oorslaap en te voet in die dorre landstreek gaan jag, betaal tot R86 000 aan die gemeenskap vir die wild wat hulle jag, fooitjies en verblyf. Hierdie inkomste is nou vir die Khomani San verlore.


Wildlewe toerisme ontvang geen kompensasie uit die staatsgeld wat vir Covid-19 verligting bedoel is nie en plaas bewaringsagentskappe en -ondernemings in ʼn benarde posisie. Talle provinsiale bewaringsagentskappe sukkel om geld in die hande te kry om salarisse te betaal. Die potensiële inkomste uit jakpakkette om oortollige wild te verwyder is ook nou daarmee heen. Die finansiële tekorte raak net groter en arm mense en wildlewe trek aan die korste end.


Die benuttingsjagbedryf het in vorige jare meer as R12 miljard per jaar tot die ekonomie bygedra. Die meeste van hierdie geld word in landelike gebiede bestee waar die sosiaalmaatskaplike gevolge van armoede en werkloosheid die grootste is. Die vier armste provinsies, nl. Limpopo, Noordwes, Noord-Kaap, en die Oos-Kaap is ook die gewildste jagbestemmings. Hoe regverdig die regering die verlies aan inkomste uit ʼn lae risiko aktiwiteit wat noodsaaklike dienste ondersteun en geleenthede verskaf in landelike gebiede waar die armste mense bly?


Een van die grootste wildboere in die Noord-Kaap wat voorheen meer as 60 mense voltyds in diens geneem het, moes reeds 50% van die werkers laat gaan sedert die Covid-19 beperkings in werking getree het. Ná die jongste beperkings was sy reaksie: “Sonder jagters wat oorbly en jag, kan ek nie oorleef nie en sal ek my onderneming moet sluit.” Die oorblywende 30 mense sal ook hulle werk verloor – permanent – en talle gesinne sonder broodwinners sal kwalik kan oorleef. ʼn Wildplaas van sowat 60 000 hektaar sal heel waarskynlik vir alternatiewe benutting omskep word. Hierdie is slegs een voorbeeld van ʼn wildplaas wat toe maak.


SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging glo daar is oplossings om die risiko van Covid-19 te verminder deur lae risiko ekonomiese aktiwiteite toe te laat wat tot noodsaaklike dienste en voedselsekerheid bydra. Benuttingsjag is een so ʼn oplossing wat ʼn bydrae lewer tot die biodiversiteitsekonomie en die land se ontwikkelingsplan.


Ons doen ʼn dringende beroep op die regering om sy benadering tot die vermindering van Covid-19 risiko’s te heroorweeg. Deur saam met die wildbedryf te werk en vertroue in te boesem deur openhartige gesprekke te voer, kan ons aanvaarbare en redelike oplossings vind wat positiewe veranderinge te weeg kan bring. Ons kan saam staan om teëspoed te bekamp en ʼn beter toekoms te bou.

Uitgereik deur SA Jagters- Wildbewaringsvereniging.