Internasionale sportskuts ding mee by wêreldkampioenskap in die Vrystaat

Die wêreld se beste sportskuts neem op 25 en 26 Oktober 2019, deel aan die International Gallery Rifle Federation se tweejaarlikse Wêreldkampioenskap by die Excalibur-skietbaan, naby Welkom in die Vrystaat.

Sowat 50 skuts van Ierland, Engeland, Australië, Duitsland en Suid-Afrika neem individueel en in spanverband deel in elf verskillende skietdissiplines van die IGRF-kampioenskap, een van die belangrikste skietbyeenkomste op die internasionale sportskietkalender. Dit is egter die eerste keer wat hierdie tweejaarlikse byeenkoms in Suid-Afrika gehou word.

 

Die IGRF Wêreldkampioenskap 2019, bied ‘n unieke geleentheid aan Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse skuts om op eie bodem met die beste skuts ter wêreld mee te ding. Suid-Afrikaanse mans- en vroueskuts vaar uitstekend in internasionale skietkompetisies. By die vorige byeenkoms in Ierland in 2017, het die Suid-Afrikaanse span uitstekend gevaar en met heelparty van die pryse weggestap.

Sportskiet in Suid-Afrika geniet nasionale erkenning en Protea-kleure is reeds toegeken aan die Suid-Afrikaanse deelnemers aan hierdie kampioenskap. Vanjaar se plaaslike deelnemers wat Suid-Afrika verteenwoordig, is Hercules Louw, Flippie van Tonder, Herman Nieuwoudt, Jaco Booysen, Deon de Villiers, Bertus Bekker, Riaan Kunneke, Nico Roets Jnr, Gerrie de Beer, Heinrich Strauss en Annemarie van Tonder.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters wat namens Suid-Afrika as gasheer optree vir die IGRF-byeenkoms, sê sportskiet se gewildheid neem veral toe onder kinders en vroue wat skietopleiding by klubs en verenigings ontvang.

By vanjaar se IGRF byeenkoms in Welkom, sal Suid-Afrika sy eie stempel afdruk deur kinders en gestremdes in die Welkom-gemeenskap by die byeenkoms te betrek. Die amptelike IGRF-dissiplines word in die oggend geskiet, maar in die middae sal kinders van kinderhuise in Welkom aan skietkuns blootgestel word wanneer hulle onder die wakende oë en kundige raad van internasionale deelnemers met luggewere na teikens sal kan skiet.

Voormalige werknemers van omliggende myne wat liggaamlik gestremd is, sal ook die geleentheid kry om hulle skietvaardighede te toets. Danksy moderne tegnieke en toerusting, kan gestremde skuts met groot sukses aan sportskiet deelneem.

Die Excalibur-skietbaan naby Welkom is oor die afgelope paar maande opgeknap om aan internasionale standaarde van die IGRF te voldoen. SA Jagters het verantwoordelikheid aanvaar vir die opgradering van die skietbaan en die fasiliteite. Danksy lede van die Vereniging se Sandrivier 58-tak wat die Welkomdistrik bedien, asook plaaslike sakelui en ander belangstellendes in die Welkom-omgewing, is hierdie skietbaan nou wêreldklas.

Foto: Die sportskuts wat op 25 en 26 Oktober aan die internasionale sportskietkampioenskap in Welkom, Vrystaat, deelneem is: voor van links na regs: Gerrie de Beer, Jaco Booysen, Andre van Heerden (spanbestuurder), Riaan Kunneke, Nic Roets (afrigter) en Hercules Louw. Agter van links na regs: Nico Roets (Jnr), Heinrich Strauss, Herman Nieuwoudt, Annemarie van Tonder, Flippie van Tonder, Deon de Villiers en Bertus Bekker.