Herfs is in die lug en die eerste blare begin val met `n heerlike koeligheid soggens. Ongelukkig is daar steeds groot gebiede in die westelike deel van ons land wat gebuk gaan onder ernstige droogte. `n Gesprek met `n boer in Namakwaland die afgelope week bring trane in die oë wanneer hy vertel dit is die negende jaar van droogte en dat geen druppel reën in meer as `n jaar in die hele distrik geval het nie. Ons harte gaan uit na hulle en ons gaan regtig probeer help waar ons kan.

Buffeljag vir R 50
Die plaaslike bevolking naasliggend aan die Sabie Game Park in Mosambiek het een van die buffels uit hulle jagkwota aan SA Jagters toegeken. Die Sabie Game Park is geleë net oorkant die grens met Mosambiek en `n mens kan daarheen ry om te gaan jag.

Hierdie jaggeleentheid sal elektronies uitgeloot word. Besonderhede sal met `n afsonderlike e-pos aan lede gestuur word. Die eerste kaartjies sal by HuntEx te koop wees. Spaar solank die R50 note om deel te neem aan hierdie trekking om `n buffel in Mosambiek te gaan jag vir slegs R 50.

HuntEx 2019
April is HuntEx maand. HuntEx2019 vind plaas vanaf 25 tot 28 April 2019 by Gallagher Konferensiesentrum in Midrand. Kaartjies vir Donderdag 25 April wat gaste slegs op uitnodiging kan bywoon, is nou beskikbaar teen R200 per persoon.

Besoekerskaartjies vir 26, 27 en 28 April by die hek kos R120 per persoon. Aanlynkaartjies wat vooraf op die HuntEx-webwerf gekoop word, kos R110. Vir pensioenarisse en skoliere wat hulle status kan bewys, kos aanlynkaartjies slegs R80.

SA Jagters het met ons aandeelhouer in HuntEx ooreengekom dat slegs lede van SA Jagters teen R80 per lid toegang tot HuntEx kry. Die voorwaarde is egter dat u vooraf kaartjies aanlyn op die HuntEx-webwerf koop. Indien u nie vooraf `n kaartjie aanlyn wil koop nie sal u soos enige ander besoeker by die hek ook R120 vir u kaartjie betaal.

Die nagaan van SA Jagters-lidmaatskap by die hek soos wat vorige jare die geval was, veroorsaak te veel opeenhoping van besoekers en skep groot frustrasie. Daarom is daar besluit dat korting vir SA Jagters se lede slegs van toepassing is op kaartjies wat vooraf aanlyn gekoop word. Koop betyds u kaartjie aanlyn teen die afslagprys van R80 op die HuntEx-webwerf.


Hofaansoeke en lisensies wat verval het: Die Groot Ontbyt Program

Dit is bekend dat GOSA aan die einde 2018 `n interdik verkry het wat die Polisie verhoed om enige individu te vervolg wie se vuurwapenlisensie verval het en om enige stappe te neem om beslag te lê op vuurwapens waarvan die lisensie verval het.

Ek kry eerskomende Vrydag 5 April om 05h30 die geleentheid om op die TV-kanaal 144 deel te neem aan `n gesprek oor vuurwapenlisensies wat verval het, die hofsake rondom dit en wat mense te doen staan wie se vuurwapenlisensies verval het. Luister en kyk asseblief na die program. Dit bevat belangrike inligting.

Die Sewentigste herdenking van SA Jagters
SA Jagters is gestig as die Transvaalse Jagtersvereniging op 1 Oktober 1949 in die koffiehuis van die Nasionale Dieretuin in Pretoria. Die naam is later verander na die Suid Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging soos ons dit steeds ken. In 2019 word SA Jagter 70 jaar oud. Verskeie projekte word beplan om die verjaardag van die Vereniging te vier.

Gedenkboek

Die ontstaan en geskiedenis van SA Jagters is nog nooit gepubliseer nie. Prof. Pottie Potgieter een van ons oud-presidente, is die argivaris wat inligting, dokumentasie en foto`s versamel vir só `n boek. Stuur asseblief alle nuuswaardighede uit die verlede, inligting en foto`s aan Prof. Pottie.

Inligting dringend gesoek: Dr SJ Swanepoel, voormalige President van SA Jagters

Die Gedenkboek oor die SAJWV wat tans geskryf word, sluit kort biografieë in van voormalige presidente. Een van hulle is dr SJ Swanepoel van wie ons geen inligting kon opspoor nie. Hy was SAJWV-president in 1969/1970. Ons vra dat enigeen wat hom of sy familielede ken en dalk weet waar hy hom bevind, dringend met Prof. Pottie in verbinding tree by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it., of 082 451 0762.
Al wat ons van dr. Swanepoel weet, is dat hy waarskynlik `n mediese dokter was. Hy was `n raadslid van die Pretoria Stadsraad. Dr Swanepoelweg in Montana (oorkant die Kolonnade-winkelsentrum) is na hom vernoem. Ons wil graag meer uitvind van sy jagaktiwiteite en sy betrokkenheid by die Uitvoerende Komitee van die SAJWV.

Juwele
Die reeks juweliersware wat Maryna de Klerk van M2 Juweliersware vervaardig sal eersdaags beskikbaar wees. Dit sluit twee reekse in: een in die prysklas tussen R800 en R1 000 per item; en een reeks met pryse tussen R2 000 tot R5000 per item wat slegs by SA Jagters beskikbaar sal wees.

Messe

Tommy Liversage en sy span is reeds kliphard aan die werk om die messe gereed en beskikbaar te kry.

Gewere

SA Jagters het kwotasies versoek vir die bou van die twee gewere in klassieke kalibers (7 X 57 en 9,3 X 62). Ons hoop om by HuntEx meer inligting beskikbaar hê.

Lidmaatskap
Die ledetal van SA Jagters bly konstant op 42 135 opbetaalde lede teen 30 Maart 2019.

Die Raad sal takke en lede versoek om gedurende die jaar spesiale aandag te gee om lede te werf en te behou. Elke lid is vir ons belangrik en ons vra dat u nuwe lede by u tak sal laat tuis voel.

Onthou dat elke lid van SA Jagters wat 10 lede in `n gegewe jaar vir SA Jagters werf die volgende jaar gratis lidmaatskap ontvang. Takke wat lede werf kry ook erkenning met `n gedeelte van die ledegeld, bo en behalwe die tak-subsidie wat die Tak ontvang.

Carl Arnold, President van SA Jagters, se doelwit is om SA Jagters se ledetal in 2019 en 2020 met 4 000 lede te sien groei. Kom ons vat hande om hierdie doelwit te behaal.

Die Jagter se Noodhulpsak
Dit is nou die tyd wanneer ons begin voorberei vir die eerste jag van die seisoen. Neem u `n noodhulpsak saam en wat behoort in daardie noodhulpsak te wees?

`n Paar kundige lede (dokters en aptekers) het vir ons `n basiese inhoud vir die noodhulpsak saamgestel. U kan uiteraard baie meer gesofistikeerde produkte en toerusting inpak. Kyk hier na die inhoud van hierdie basiese noodhulpsak.

Die volgende uitgawe van SA Jagter wat met HuntEx reeds beskikbaar behoort te wees sal ook `n artikel oor `n noodhulpsak vir die jagter insluit.

Wapeninspeksie deur SAPD
Oor die afgelope twee weke het die SAPD inspeksies wou doen by lede met toegewyde sportskutstatus wat semi-outomatiese vuurwapens besit om te bepaal of lede wel hierdie wapens vir sportskiet gebruik. Alhoewel hierdie optrede van die Polisie onregmatig is, kan lede `n besoek van die SAPD verwag. Dit is baie belangrik om gereed te wees om die nodige bewyse te kan lewer.

Ons raai sportskuts met semi-outomatiese wapens aan om dit gereeld te gebruik en om die aktiwiteite op hul SA Jagters se ledeprofiel aan te teken. Indien die SAPD u sou besoek, is dit eenvoudig om net `n uitdruk van die aktiwiteitsregister te verskaf. Wees dus gereed vir so `n onregmatige inspeksie.

SA Jagters het reeds 18 520 toegewyde jagters waarvan 5 307 reeds vir 2019 genoegsame aktiwiteite registreer het om die status te behou. Daar is ook 10 720 toegewyde sportskuts waarvan 2 346 reeds genoegsame aktiwiteite registreer het om die status te behou.

Gebruik u wapens verantwoordelik, registreer die aktiwiteite en hou u status in stand ten einde u wapens te behou.

Samewerkingsooreenkoms
SA Jagters en die IWFF (International Wildlife Fellowship Foundation) het `n samewerkingsooreenkoms geteken na goedkeuring deur die Raad van SA Jagters. Die Stigting het twee breë doelwitte nl. “Hunters for Habitat” met die klem op navorsing en ondersteuning van bewaringsaktiwiteite wat fokus op bewaring en volhoubare benutting. Die tweede doelwit is “Hunters Support” wat op sosiale ondersteuning met humanitêre oorwegings fokus.

SA Jagters neem graag hande met ander organisasies wat soortgelyke doelwitte nastreef. Ons sal mettertyd meer inligting oor hierdie projekte verskaf.

Opleiding
SA Jagters in samewerking met die Wildlife College bied weer opleiding in die jag van gevaarlike wild aan. Slegs lede met Toegewyde Jagterstatus kwalifiseer.
Jag van Gevaarlike Wild
Kursus: (R4000) (Olifant, Buffel, Leeu, Luiperd, Hiëna)
Die volgende kursusdatums is beskikbaar vir 2019.

  • 3-6 Junie 2019 (x 3 plekke oop) (Maandag tot Donderdag)
  • 13-16 Junie 2019 (x 4 plekke oop) (Donderdag tot Sondag)
  • 17-20 Junie 2019 (x 6 plekke oop) (Maandag tot Donderdag)
  • 24-27 Junie 2019 (x 4 plekke oop) (Donderdag tot Sondag)

Rig navrae aan Liesel by 012 808 9325 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Die volgende inligting word vereis met bespreking en betaling van die kursusfooi:

  • Naam en van
  • Lidnommer
  • Nommer van Toegewyde Jagterstatus
  • Telefoonnommer
  • Voorkeurdatum vir bespreking

SA Jagters Browning Nasionale Haelgeweer Kampioenskap
Die SA Jagters Browning Nasionale Haelgeweer Kampioenskap vir 2019 het op Saterdag 30 Maart plaasgevind en was `n reuse sukses. Al die skuts het lekker geskiet oor die 100 klei formaat en skuts moes diep delf om hul beste vaardigheid na vore te bring om bo uit te kom.
Die uitslae van die kompetisie in die onderskeie klasse is soos volg:
Ope Klas “Top Gun”
1. Mnr. PWA Rheeder (Pieter) Cheetah tak 93
2. Prof. BK Reilly( Brian) Pretoria –Oos 92
3. Mnr. JD Allem(Joel) Cheetah tak 92
Senior Mans
1. Mnr. PWA Rheeder (Pieter) Cheetah tak 93
2. Mnr. JD Allem(Joel) Cheetah tak 92
3. Mnr. WJ van de Giessen (Johann) Centurion 87
Dames
1. Mev. JS van Jaarsveld(Sanet) Suikerbosrand 76
2. Mev. MC Calitz (Megan) Suikerbosrand 64
3. Mev. WJ Henning (Wilma) Suikerbosrand 58
Veterane
1. Prof. BK Reilly( Brian) Pretoria –Oos 92
2. Mnr. PK Steyn (Peet) Springbok tak 83
3. Mnr. A Pienaar (Andre) Vaaldriehoek 83
Super Veterane
1. Mnr. V Pitchers (Viv) Pretoria-Oos 85
2. Mnr. RJ Crawford-Brunt (RJ) Vaaldriehoek 76
3. Mnr. C Naudé (Charl) Pretoria-Oos 76
Junior
1. Mnr. DJ Liebenberg (DJ) Valschrivier 62

 

Die datums vir die Intertak Streek Haelgeweer byeenkomste vir die res van 2019 is soos volg:

No Datum Tak Plek
1 13-Apr Eland Streek Haelgeweer Intertak skiet Wattle Spring Sport Shooting Club
2 27-Apr Kwagga Streek Haelgeweer Intertak skiet PE Kleiduifklub
3 25 Mei Swartland Streek Haelgeweer Intertak skiet Valley Gun Club Durbanville
4   Cheetah Streek Haelgeweer Intertak skiet Bet-mar
5 27 Julie Kalahari Bosveld Streek Haelgeweer Intertak skiet Dirk van Schalkwyk Skietbaan
6 3 Augustus Valschrivier Streek Haelgeweer Intertak skiet te Elandsrand
7 17 Augustus Vaalrivier Streek Haelgeweer Intertak skiet te Hartbeestak Potchefstroom 
8 07-Sep Pretoria Oos Streek Haelgeweer Intertak skiet te Wattle Spring Sport Shooting Club
9 14-Sep Stormberg Streek Haelgeweer Intertak skiet te Winterberg Gun Club Adelaide 
10 5 Oktober  Wesrand Streek Haelgeweer Intertak skiet te Durban Deep
11 26 Oktober Oosrand Streek Haelgeweer Intertak skiet te Waterhaven Country Estate

 

Fotokompetisie
Lede word herinner om deel te neem aan SA Jagters se fotokompetisie. Die doel van die kompetisie is om `n portefeulje saam te stel van die beste foto`s wat SA Jagters se lede geneem het sodat ons dit op die webwerf, in aanbiedinge en advertensies by geleenthede soos die jaarlikse kongres se gala-aand kan vertoon.

Aan die einde van elke maand sal ons foto`s kies om by hierdie portefeulje in te sluit en dit ook op www.sahunters.co.za publiseer. Februarie se finaliste se foto`s kan hier gesien word. Lede sal ook erkenning in die vorm van goud, silwer of brons sertifikate ontvang.

Ons borg (Canon SA) het weer `n nuwe kamera as prys vir die algehele wenner beskikbaar gemaak. Die prys word tydens ons kongres galadinee aan die einde van die jaar oorhandig. Ons probeer ook om meer pryse vir die verskillende kategoriewenners te kry.

Kategorieë vir 2019 se kompetisie

  1. Die Jagter (Nie gejagte diere): Foto`s wat `n jagter – mens of dier – in die natuur uitbeeld.
  2. Die Natuur Praat: Foto`s uit die natuur wat met die jou siel praat, bv. Merkwaardige agtergronde of kleure.
  3. Dierelewe: Foto`s wat enige dierelewe (land, voël of seelewe) uitbeeld.
  4. Skiet –`n toegewyde sport: Foto`s wat die aktiwiteit, toewyding, toerusting en voorbereiding van die sportskut uitbeeld.

Lees gerus hier wat u moet doen om in te skryf.Interessante Leesstof
Baie lede lees graag boeke en artikels oor jag – soms amusant en soms baie ernstig. Ek het onlangs twee interessante boeke raakgeloop.

Manewales van Jag deur Schalk Vermeulen is tong-in-die-kies vertellings oor ware gebeure wat met verbeelding ingekleur is. Schalk is ``n Bloemfonteiner en `n lid van SA Jagters. Hy het ingestem om die boekie beskikbaar te maak teen R150 plus posgeld vir lede van SA Jagters. Kontak Schalk Vermeulen by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of 082 457 2297 en hou jou lidnommer reg om die boekie te bestel.

Die tweede boekie, Agred Gids tot Jagvoëlbestuur in Suid Afrika, is gemik op grondeienaars en bevat waardevolle inligting vir grondeienaars en haelgeweerskuts. Ons het ``n aantal eksemplare beskikbaar teen R150 plus posgeld. Plaas bestellings by Rene Cornelius by (012) 808 9300 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Kommersiële sake
Soos gebruiklik, sluit ons skakels in na ons webwerf vir meer inligting oor spesiale aanbiedings vir SA Jagters se lede. Kliek op die skakel waarin u belangstel.
Die volgende leweransiers bied spesiale voordele aan lede van SA Jagters.

  • Toyota SA
  • Westvaal Nelspruit
  • Wildman Hunting and Outdoor
  • Hokaai Slaghuis
  • Die Wildshoekie Vleismark
  • LAVA Vakuumverpakking
  • Selftrack
  • MAINSU Kragopwekkers
  • Cens Digital Gehoorbeskerming
  • Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
  • Helle-messe
  • Nitecore Flitse
  • Cassie Nienaber – Ladingontwikkeling en Herlaai
    Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.

Vriendelike groete
Fred Camphor
SA Jagters: HUB